TUINROETE | HESSEQUA SPORTNUUS - 'n Skouspel van kragvertonings sal hom die komende naweek in Hartenbos afspeel wanneer toutrekspanne van regoor die Wes-Kaap in die Wes-Kaap provinsiale toutrekkampioenskap gaan meeding.
Die kampioenskap, waar manne en vroue tande gaan kners en spiere sal bult vind Saterdag, 24 Oktober by die ATKV Amfiteater plaas.
Die Wes-Kaapse minister van sport en kultuur, Anroux Marais, het te kenne gegee dat sy dit gaan bywoon.
Die kampioenskap was aanvanklik vir 30 en 31 Oktober gedagboek, maar Jean Neethling, kantoorhoof van die departement sport en kultuur binne die Tuinroete het Woensdag, 20 Oktober bevestig dat dit na eerskomende Saterdag vervroeg is.
Dis onseker hoeveel spanne gaan deelneem, maar dit beloof om weer eens 'n hoogtepunt op die sportkalender te wees.
Marais het op 23 September R10 000 uit die ministriële sportkluis aan die Eden-toutrekfederasie geskenk as 'n bydrae om die kampioenskap by te woon.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa nuus'