SUID-KAAP SPORT NUUS - Die Suid-Kaap Jagters- en Bewaringsvereniging (SJB) se 28ste algemene jaarvergadering en bestuursverkiesing het Saterdag 2 November by die Emmaüs-sentrum in George plaasgevind.
'n Nuwe bestuur is gekies wat die leisels gedurende 2020 moet hou en sorg dat die vereniging van krag tot krag gaan.
Louis Welman is verkies tot president en Wynand Fourie as voorsitter. Johan Potgieter het uitgetree en word bedank vir sy waardevolle bydrae tot die natuurbewaringsportefeulje. Ferdinand Boll is as nuwe bestuurslid verkies.
Verskeie toekennings is ook tydens die geleentheid gemaak.
Wenners
Jacques du Plooy (beste skut: skietdae), Leras van Zyl (beste junior skut: skietdae), Quintus Lotter (beste student: Chasa-kursus), Tiaan Gerber (beste bosbok en meeste punte: trofeemeting) en Jozua Malherbe (beste trofee: trofeemeting).
Alle borge en verskeie privaat donateurs is vir hul aandeel tot die sukses van SJB se aktiwiteite bedank.
John Fitzgerald het 'n presidentstoekenning ontvang vir sy onbaatsugtige diens aan die vereniging. Sy betrokkenheid strek oor die hele spektrum van die vereniging se aktiwiteite. Hy is betrokke by die CHASA-kursusse waar hy help kos maak, bane opstel en weer opruim. Die ywer waarmee hy homself beskikbaar stel om diens te doen wanneer bane opgestel moet word en as baanoffisier diens te doen, strek as voorbeeld vir baie ander.
SJB se bestuur nooi sy lede, asook nie-lede uit om vir die jaarlikse ghong-uitdaging in te skryf wat op Saterdag 16 November naby De Rust gaan plaasvind. Die kompetisie gaan in spanverband aangebied word en elke span bestaan uit vier skuts.
Daar gaan verskeie pryse en verskeie gelukstrekkings wees. Alle deelnemers het 'n gulde kans om 'n heerlike dag in die natuur deur te bring en dalk 'n goeie prys met die gelukstrekking los te slaan.
Vir meer inligting oor skietdae en -kursusse, kontak die SJB-kantoor by 044 695 2319, stuur 'n e-pos na info@suidkaapjagters.co.za of besoek die webtuiste by www.suidkaapjagters.co.za
Die Suid-Kaap Jagters- en Bewaringsvereniging se nuwe bestuur is agter, van links: Ferdinand Boll, Reenen Potgieter, Fermi Meyer, Natie Fourie, Jannie Swanepoel en Christo Engelbrecht. Voor: George Butler, Flip Coetzee, Wynand Fourie, Louis Welman en Len Nel. Afwesig: Niaan Fourie, Mias Fourie, Frans Viviers en Joseph Steyn.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'