STILBAAI NUUS - 'n Plaaslike span het die Stilbaai Classic-rolbaltoernooi, wat vir die negende agtereenvolgende jaar by Stilbaai-rolbalklub aangebied is, gewen.
Dié gewilde toernooi het vanaf Donderdag 18 tot Saterdag 20 Oktober plaasgevind met 24 spanne van sover as Langebaan, Velddrif, Kaapstad, L'Agulhas, Bredasdorp, Hartenbos, George, Barrydale en Jeffreysbaai wat vanjaar deelgeneem het. Selfs die sterk wind kon nie die heerlike spangees en goeie rolbal stuit nie.
Die toernooi, met Personal Trust as hoofborg en verskeie besighede wat pryse geborg het, is deur die munisipale bestuurder, Johan Jacobs geopen. Agt spanne van Stilbaai het deelgeneem.
Ná drie dae was dit die span van Johan Roestorff, Johan Snyman, Mariana van der Walt en Paula Swanepoel wat as vanjaar se wenners gekroon is. Dit was 'n naelskraap-oorwinning teen die span 'Piet en sy Pelle'.
Die spanlede was Piet en Magda Robbertse van Jongensfontein, Japie Combrinck wat in verlede jaar se wenspan was en Tom Strydom wat vanjaar tweede geëindig het.
Die Personal Trust-span - Johan Fernhout, Tom en Rina Pienaar en Mariana van der Walt - het derde geëindig.
Dit gaan egter oor meer as rolbal en met lootjies en boetes is geld ingesamel vir onder andere Huis Stilbaai en Ouma Lena se Huis. Prof Stadler, wat die hoofborg verteenwoordig het, het tydens die verrigtinge aangekondig dat Personal Trust volgende jaar ook die 10de Stilbaai Classic-rolbaltoernooi sal borg.
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'