Update
STILBAAI ROLBALNUUS - Stilbaai-rolbalklub kon uiteindelik ná twee jaar weer die baie gewilde Classic Open-rolbaltoernooi aanbied.
Die laaste toernooi was in 2019 omdat die Covid-19-pandemie en gepaardgaande inperking die aanbieding daarvan verhoed het.
Daar was 24 gemengde spanne van drie lede (trips) wat van 15 tot 16 Oktober deelgeneem het.
Spanne van Hartenbos, Mosselbaai, Outenikwa, Groot-Brakrivier, Riversdal en Witsand, asook Stilbaai-spanne het aan hierdie gewilde kompetisie deelgeneem. Spelers is Donderdagaand, 14 Oktober met 'n heerlike geselligheid in die klubhuis verwelkom.
Annelie van Renen sê die weer het nie heeltemal saamgespeel nie, maar die gasvryheid van die plaaslike rolbalklub het vir die teleurstelling van die slegte weer vergoed. Daar is heerlik geëet en saamgekuier van ontbyt, middag- tot aandete.
Die klub het wonderlike borge gehad en prysgeld van R17 500 was op die spel, asook heerlike ander pryse van verskillende wynlande en produkte van plaaslike produsente. Die hoofborg was Personal Trust. Die rolbalklub is baie dankbaar teenoor hulle getroue borge vir hierdie toernooi.
Spel is die eerste dag oor 10 koppe per wedstryd gespeel en die tweede dag oor 12 koppe. Goeie spel is deur al die klubs teenwoordig gespeel en die eerste 12 wenspanne het almal pryse ontvang. Stilbaai het egter met die louere weggestap.
Uitslae
- Johan Roestoff (skip), Johan Snyman (tweede) en Paula Swanepoel (lei);
- Piet Roodt (skip), Fanie Lubbe (tweede) en Cheryl Worth (lei);
- Piet Robbertse (skip), Japie Combrinck (tweede) Magda Robbertse (lei).
Van links: Johan Roestoff, Paula Swanepoel en Johan Snyman.
VORIGE ARTIKEL: Klassieke toernooi weer aan
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'