Gallery
STILBAAI NUUS - Spanne het Woensdag 26 Desember meegeding om die sand in mekaar se oë te skop en as wenners weg te stap met die jaarlikse Stilbaai-touchies.
Bruingebrande lywe, son, see, koue drankies en natuurlik die aksie het honderde besoekers gelok.
Spelers sowel as toeskouers het gereeld gedurende die bloedige warm dag in die rivier gaan afkoel.
Duikslae deur die lug om ’n drie te laat tel het dit duidelik gemaak dat spanne die spel ernstig opgeneem het. Omstanders wat die uitgemerkte ‘velde’ toegestaan het, moes gereeld koes.
Jong en ouer rugbyspelers het deelgeneem. Selfs vroue het saam met die manne die bal laat tol. Organiseerders het die dag behoorlik prettig gehou.
’n Miss Touchies 2018 is gedurende die loop van die dag gehou. Moenie dink dit het net oor mooi lyfies en skoonheid gegaan nie. Meisies wat deelgeneem het moes die gehoor probeer vermaak, toeskouers kry om almal saam hul hande in die lug te gooi en moes boonop vyf opdrukke doen. Op die sand was dit nie té maklik nie. Polisielede was sigbaar en het die strand gepatroleer.
’n Jong spannetjie van Strand, Liberty Webb Rebels het tydens ’n finaal die Maori Kingsz met 2-0 gewen.
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'