STILBAAI NUUS - 'n Rolbalspan van die dorp het Donderdag 12 Mei Stilbaai-rolbalklub se pragtige baan aan die brand gespeel en met die louere weggestap tydens die jaarlikse Engen-mannedag.
Piet Roodt, Fanie Lubbe en Hennie Steyn se span was deel van ses rolbalklubs met 18 spanne wat aan die byeenkoms deelgeneem het.
Die manne het mekaar behoorlik opgekeil. Stilbaai, Riversdal, Witsand, Mosselbaai, Hartenbos en Groot-Brakrivier het dit uitgespook en hoewel die kompetisie intens was, was die kameraderie van hierdie sportmanne baie duidelik.
Die wenspan is met 'n R1 000 elk deur die hoofborg van die dag beloon. In die tweede plek was Richard Smith, Karel Grové en Johann de Jager van Hartenbos wat elk 'n bottel jenewer van Inverroche ontvang het.
Die derde plek is deur Kobus Kriel, Ferdie de Wit en Ewie Swanepoel, ook van Hartenbos ingeneem. Hulle het elkeen 'n wyn geskenkpak ontvang.
Roodt het almal bedank vir die fantastiese gees wat op en van die bane geheers het. "Ek het nie 'n enkele nors gesig gesien nie en ek hoop van harte om almal weer volgende jaar hier te sien," het hy gesê.
Hy het ook vir Angelo Erasmus van Stilbaai Engen, hoofborg, bedank en genoem dat so 'n dag net suksesvol aangebied kan word as die sakesektor en sportklubs hande vat.
Nee, nee, nee, so bietjie dié kant toe, beduie die speler asof die bal hom kan hoor.
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'