STILBAAI NUUS - Die plaaslike rolbalklub het skoonskip in die negende Classic Toernooi wat van 17 tot 19 Oktober op die dorp aangebied is, gemaak.
Agtien spanne waarvan agt van buite Hessequa afkomstig is, het deelgeneem.
Langebaan, Swellendam, George, Mosselbaai en Bronkhorstspruit het onder meer saam gespeel. Daar was ook vier gemengde spanne wat uit lede van verskillende klubs bestaan het. Hulle is reeds Woensdagaand 16 Oktober by die klub verwelkom en deur die loop van die toernooi met heerlike etes en meer bederf.
Spel begin altyd met 'n 'spinnekop–rol' op die eerste dag en die eerste bal is deur die Hessequa munisipale bestuurder, Johan Jacobs gerol.
Die geld wat met dié rol ingesamel is, is aan Huis Stilbaai en Ouma Lena se Huis oorhandig. Jacobs het ook Donderdagoggend al die spelers namens Stilbaai verwelkom.
Die formaat was gemengde viere en elke span het twee wedstryde van 21 koppe elk per dag gespeel. Danksy die vrygewige borge is elke lid van die 18 spanne met 'n produk van Stilbaai en omgewing huis toe. Al die wedstryde is in egte rolbalgees afgehandel, met groot gemoedelikheid en wedersydse gesonde kompetisie. Almal was dit eens dat rolbal in Stilbaai baie lekker is, of jy nou wen of verloor.
Die wenspan was van Stilbaai-rolbalklub, tweede plek is deur die Personal Trust-span ingeneem en in die derde plek was 'n gekombineerde span van Piet Robbertse van Stilbaai-rolbalklub. Die plaatafdeling is ook deur 'n plaaslike span gewen.
Annelie van Renen van die klub bedank alle besighede vir hul ondersteuning en ruim borgskappe.
Derde plek, agter van links: Prof Stadler (borg), Japie Combrinck (derde) en Piet Robbertse (skip). Voor: Judy Swart (lei) en Magda Robbertse (tweede).
Tweede plek, van links: Prof Stadler ( Skip), Gerrie van Rensburg (derde), Rina Pienaar (lei), Fred Pienaar (tweede) en Mariana van der Walt (President).
Plaatwenners, van links: Theresa Jones (lei), Steve Mentz (tweede), Danie Botes (derde) en Piet Roodt (skip).
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'