STILBAAI ROLBAL NUUS - Twee spanne van Stilbaai-rolbaklub het tydens die Groot-Brakrivier-rolbalklub se jaarlikse Classic-toernooi 'n klassieke vertoning gelewer deur met oorwinnings in die twee belangrikste kompetisies weg te stap.
Die twee spanne het onderskeidelik die Classic-toernooi en plaatkompetisie gewen.
Die toernooi, wat deur Personal Trust geborg is, het vanjaar 24 spanne gelok waarvan sommige so ver as Clanwilliam, Gordonsbaai, Ladismith en Stilbaai gereis het om deel te neem.
Die toernooi is onder goeie weersomstandighede gespeel en hoewel die gees gemoedelik was, is geen genade op die baan gegee nie.
Die kompetisie was taai en elke span moes hard werk en konsentreer vir elke punt op die bord.
Die wenspan van Stilbaai is deur Piet Robbertse, Magda Robbertse, Johan Snyman en Paula Swanepoel verteenwoordig.
Die tweede span is van Battlefields, 'n klub in KwaZulu-Natal, wat deur Frank en Arlene Bosse en Nan en Lourens Roos verteenwoordig is.
Die plaatkompetisie-wenners van Stilbaai se spanlede was Mariana van der Walt, Piet Roodt, Tonie van der Walt en Wessel Potgieter. Die naaswenners in die plaatkompetisie was 'n span van Groot-Brakrivier met Rosa van der Merwe, Erna en Johan Pretorius en André Lombard as lede.
Die Stilbaaispan wat met die louere weggestap het, is hier saam met Prof Stadler van die hoofborg (links) afgeneem. Die spanlede is van links: Piet Robbertse, Magda Robbertse, Johan Snyman en Paula Swanepoel.
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'