RIVERSDAL MOTORSPORTNUUS - Om op vyfjarige ouderdom 'n algehele vierde plek in motorsport, spesifiek die Ninja Midget-klas te behaal, is 'n uitsonderlike prestasie.
Wat meer is, Lea Havenga van Riversdal het Sondag, 30 Mei eers vyf geword en was die jongste deelnemer in haar klas.
Sy het Saterdag, 29 Mei op Worcester teen sewe opponente tussen die ouderdom van vier en 11 jaar meegeding. Dit was haar vierde byeenkoms.
Lea se pa, Johannes het 'n algehele derde plek in die AMS V8-klas behaal.
Ehrard Visagie (16) wat 'n leerder by die Hoër Landbouskool Oakdale is, het 'n algehele tweede plek in die StockRods-klas behaal. Dit was harde en vinnige wedrenne en hierdie drie het hulle besonder goed van hul taak gekwyt.
Die plaaslike deelnemers bedank almal wat hulle ondersteun het, asook al die borge wat dit vir hulle moontlik gemaak het om deel te neem.
Sommer van jongs af 'n motorsport-entoesias. Lea Havenga in aksie.
Dis duidelik van wie Lea Havenga haar liefde vir motorsport gekry het. Pa Johannes Havenga het ‘n derde plek in sy klas verower.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'