TUINROETE DISTRIK SPORTNUUS - Suid-Kaap Jagters in samewerking met Wildman Hunting & Outdoor in George het op Saterdag, 21 November 'n suksesvolle ghonguitdaging aangebied.
Die toestande vir skiet was beslis uiters uitdagend en skuts wat deelgeneem het aan die ghonguitdaging moes die volle aanslag van die natuur trotseer met die kwik wat by 35°C gaan draai het.
Ironies is die feit dat die dag aangebied is op Henry en Martie van der Westhuizen se plaas Aangenaam net buite De Rust. Aangenaam verras ja, want die kompetisie het bestaan uit ses bane van vyf ghongs per baan, op verskillende afstande en natuurlik uit verskillende skietposisies.
Met die inperking van die Covid-19 pandemie was die manne, vroue en selfs 'n kinderspan, uitgehonger vir skiet.
Die kinderspannetjie is verras deurdat hul elkeen 'n kontantprys ontvang het wat deur 'n skut geskenk is om as aanmoediging vir die jongspan te dien.
Die spanne wat as wenners uit die stryd getree het is as volg:
- Team AHS: Raynor Becker, Johan Delport, Tommy Dixon en Deon van Tonder;
- 3 Jacks and a Jill: Johan Fourie, Niaan Fourie, Junita van Zyl en Willie van Zyl;
- Christo se span: Christo Delport, Hein de Swardt, Hugo Moolman en Ruan Moolman.
Spanwerk en ondersteuning was die resep vir hierdie suksesvolle dag. Die groot hoeveelheid gelukstrekkings vir individuele skuts en so ook die gelukstrekking vir die spanne, het die meeste skuts se verwagtinge oortref.
'n Nuwe toetreeder tot die skietsport in die Suid-Kaap is RAiN geoktrooieerde rekenmeesters van Mosselbaai wat die aankoop van ekstra pryse moontlik gemaak het met die belofte van nog bydraes in die toekoms. Die bestuur van Suid-Kaap Jagters wens almal 'n geseënde Kersfees en voorspoedige nuwe jaar toe.
Die wenspan van die dag is Team AHS. Van links is: Wynand Fourie (voorsitter Suid-Kaap Jagters), Tommy Dixon, Deon van Tonder, Johan Delport, Raynor Becker en Tienie Hattingh (Wildman Hunting & Outdoor).
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'