HESSEQUA SPORTNUUS - Riversdal-jukskeiklub was Saterdag 11 September 'n miernes van bedrywighede met skeie wat boë getrek het, penne se geklap en spelers wat die lekker weer en spel terdeë geniet het.
Vier klubs, Riversdal, Hartenbos, Mosselbaai en Stilbaai het aan die opedag deelgeneem wat jaarliks opgedra word aan wyle Gielie Wessels.
Wessels was 'n gewilde lid van die klub en alom bekend onder jukskeiers. Volgens klubsekretaris Jan van Dyk het Wessels baie vir Riversdal-jukskei en jukskei in die algemeen gedoen.
Fotogalery: Jukskeiklubs neem deel aan Gielie Wessels opedag
Kompetisies
Die opedag was ook 'n geleentheid om voor te berei vir twee kompetisies wat voorlê - die meesters in Kroonstad van 26 September tot 1 Oktober en die interdistrikkompetisie op 30 Oktober op Riversdal. Vier streke, Eden, WP, die Kaapse Wynlande en Overberg, gaan teen mekaar meeding.
Kom kyk!
Inwoners van Riversdal word genooi om die interdistrikkompetisie op 30 Oktober te ondersteun en meer oor die sport te leer. Kontak voorsitter Barry van Schalkwyk by 082 623 1704 met navrae.
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'