Update
RIVERSDAL NUUS - Berge is daar om geklim te word. So glo drie ywerige en ervare bergstappers van die Riversdal-omgewing.
Yvonne van der Berg, Elna van der Walt en Derek Odendaal geniet dit reeds vir jare om die Langeberge te verken, maar het so twee jaar gelede besluit dat 'n uitdaging dit nog beter sal maak.
Daar is toe besluit om die sewe hoogste en prominentste pieke in die Riversdal-omgewing van die Langeberge te klim.
Yvonne woon in die Langeberge op die plaas Langkloof, wat toegang tot 'n hele paar van hierdie hoë pieke bied. Elna woon in Riversdal en Derek in Stilbaai, vanwaar hy verskillende stap- en voetslaanaksies bedryf. Al drie is besonder passievol oor berge, al is nie een van hulle meer so jonk nie.
Die sewe hoogste/prominentste pieke is Langebergpiek (1 525m), Kampseberg (1 376m), Mosambiekkop (Sleeping Beauty, 1 341m), Aasvoëlkrans (1 341m), Rooielsberg (1 299m), Paardeberg (1 296m) en Duiwelsbosberg (1 294m). Hierdie kruine troon gemiddeld sowat 800m bo die omliggende landskap uit, so dit verg sterk bene, fiksheid en ook goeie roetebeplanning om veilig op en af te kom.
Die drie stappers het die sewe pieke met verdrag aangepak en een vir een afgemerk, soms saam met ander stappers, maar meestal net die drie saam. Hierdie uitdagende klimme, soms oor baie ruwe en beboste terrein is nie juis alle stappers se idee van pret nie.
So is al sewe die pieke onlangs afgemerk toe Aasvoëlkrans (oos van Sleeping Beauty) op Sondag, 28 Maart geklim is. Yvonne en Elna het nou al sewe die kruine oorwin, terwyl Derek nog een moet afmerk, naamlik Kampseberg. Intussen loer die drie stappers reeds na nog 'n paar van die hoogste pieke in die gebied... Hoekom by sewe stop?
Vorige artikel: Berge moet geklim word
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'