RIVERSDAL NUUS - Die lekkerste van toutrek is om hard te werk en goud te wen.
So sê Arenda Mathys wat pas saam met die SA Gazelle-span uit Kuala Lumpur in Maleisië teruggekeer het waar sy en haar spanmaats aan die 2019 internasionale toutrekklubkampioenskap deelgeneem het.
"Ek was 14 en in gr. 8 toe ek en my maats probeer toutrek het, en hoe meer ek dit gedoen het, hoe meer het ek dit geniet," vertel sy.
Sy het duidelik besondere aanleg daarvoor, want sy is op 15-jarige ouderdom as lid van die Eden-toutrekfederasie by die SA Gazelle se derde span ingesluit wat aan die wêreldkampioenskap in Harare in Zimbabwe gaan deelneem het.
Op 16 is sy in die B-span opgeneem wat aan die wêreldkampioenskap in Kaapstad deelgeneem het.
Die groep het bestaan uit 12 meisies van tussen 14 en 23 jaar oud. Agt meisies vorm 'n span wat binne 'n gewigsgroep deelneem - die agt moet altesaam 520 kg, 480 kg of 620 kg weeg. Sy was deel van die o.18-span van 480 kg. Sy en Rakia Pityana van George is albei in die span ingesluit.
"Ons moet hard oefen om ons bobene, arms, hande, rug en kern sterk te maak," sê sy. Hulle moet ook hul dieet dophou. "Ons span was te swaar en moes altesaam 4 kg verloor. Ons moes dik aangetrek in die verskriklike hitte van tussen 40° en 45°C hardloop om dit reg te kry."
Hulle het op 25 Augustus uit Kaapstad vertrek en na 'n vlug van sowat 24 uur in Kuala Lumpur aangekom waar hulle in die Capitol Hotel gebly het. Die verskillende spanne het op 28, 29, 30 en 31 Augustus deelgeneem. Die man- en damespanne het altesaam vyf goue-, een silwer- en twee bronsmedaljes verower. Arenda se gewigsgroep het goud gewen.
Op hul rusdag kon hulle die stad verken. "Ek het van die vreemde soorte vrugte geproe," sê sy.
Kyk 'n video hieronder.
Mathys was tot Junie vanjaar 'n leerder aan Van Kervel skool in George, maar is nou besig om matriek deur Abet te voltooi. "My ma het my leer kosmaak en ek wil graag volgende jaar 'n kursus daarin doen."
Volgens Nina Nel, haar pleegsorgma sedert sy drie jaar oud is, het verskeie borge dit vir haar moontlik gemaak om deel te neem.
Dit sluit onder meer die munisipaliteit, Leef-gemeente, haar oupa Johan Bekker en 'n anonieme skenker wat R12 000 deposito betaal het, in.
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'