RIVERSDAL NUUS - Lede van die plaaslike rolbalklub se sosiale liga het Donderdagaand 12 Maart kleurryk die balle gerol en die rande vir Kansa laat rol.
Die lede en hul vriende het altesaam R4 100 tydens die klub se tweede fondsinsamelingsgeleentheid vir Kansa geskenk.
Verlede jaar is R2 640 ingesamel.
Die Bollerollers, al te fraai in hul pienk ballerinarompies het die goue medalje verower, tewyl die Platteklowers met hul pienk hardehoede onder leiding van Louis Vermaak die silwermedalje verdien het.
Lilian Burke, Kansa Riversdal-voorsitter het die rolbalklub hartlik bedank. "Dit is vir ons 'n voorreg om in so 'n omgee-gemeenskap te werk. Ons waardeer die klub en elke deelnemer se bydrae uit die diepte van ons harte," sê sy.
"Die klub se belangrikste doelwit is om die totale gemeenskap in vrede byeen te bring rondom hierdie gewilde sportsoort," sê Louw Bester, sekretaris en tesourier. "Ons glo die fondsinsameling was 'n groot sukses en ons bedank elkeen wat betrokke was en 'n bydrae gelewer het."
Die Bollerollers het die goue medalje vir hul poging verower.
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'