Gallery
STILBAAI NUUS - Stilbaai-rolbalklub het Saterdag 11 Junie hul Presidentsdag-toernooi in perfekte weer aangebied.
Nie minder nie as nege klubs het met 24 spanne mekaar die stryd aangesê. Stilbaai het nege spanne ingeskryf met Oudtshoorn, Hartenbos en Riversdal drie spanne elk. Ladismith, Outeniqua, Heidelberg, Witsand, Knysna en die hoofborg, Personal Trust, wat elk een span in die veld gestoot het.
Die dag het om 09:00 afgeskop op die pragtige bane van Stilbaai met die balle wat aanvanklik traag reageer het op die nat, swaar bane, maar soos die sonnetjie al warmer geraak het, het die bane al vinniger geraak en pragspel opgelewer.
Uiteindelik kon vernuf en tuisveld voordeel nie verseker dat Greg Young, Emile Bredell, Ann Fick en Charlene Strydom van Outeniqua welverdiend met die louere weggestap het nie.
FOTOGALERY: Stilbaai-rolbalklub se Presidentsdag-toernooi
Die wenners van Stilbaai-rolbalklub se Presidentsdag-toernooi is agter, van links: Jacobus (Prof) Stadler (hoofborg), Greg Young en Emile Bredell. Voor: Ann Fick en Charlene Strydom van Outeniqua-rolbalklub.
In die tweede plek was Frans Human, Tharina Cloete, Reinette van der Berg en Philip Cloete van Stilbaai en derde was Wessel Potgieter, Loekie Roos, Peter Alexander en Willie Roos, ook van Stilbaai-rolbalklub.
Die lekker van die toernooi is dat besoekende spanne sommer van die geleentheid gebruik maak om die naweek by die see te spandeer en Marius Westraad van Oudtshoorn het gesê dat hierdie hulle eerste toernooi in Stilbaai is, maar hulle is vir seker volgende jaar terug.
Jacobus (Prof) Stadler van Personal Trust het almal bedank, veral diegene wat ver gery het, en aangedui dat hulle verseker volgende jaar die toernooi sal borg indien die klub hulle toelaat.
Dup van Renen, president van Stilbaai-rolbalklub, die komitee en sommer die hele klub kan baie trots wees op wat hulle Saterdag vermag het. Dit was voorwaar puik georganiseer en aangebied.
Lynette Erasmus van Stilbaai-rolbalklub gee duidelike instruksies.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’