RIVERSDAL NUUS - Hessequa (Eden) en Atletiek SWD (ASWD) beskik oor ongelooflike baan- en veldatletiektalent. Hierdie talent is egter nog nie na behore ontwikkel nie en elke moontlike bydrae moet gemaak word om reg hieraan te laat geskied, sê die bekende naelloopafrigter, Hendrik Prins.
Prins sê uitslae oor die laaste paar jare het plaaslike afrigters tot die oortuiging gebring dat daar 'n groot behoefte aan praktiese ontwikkeling is. Hessequa is spesifiek uitgewys as 'n gebied vir die ontwikkeling van baan- en veldatlete.
"Atletiekafrigting volg deesdae 'n wetenskaplike benadering en dit is ons hoofdoel om baan- en veldatlete op skoolvlak die korrekte tegnieke aan te leer. Ons wil juis aan die metodiek van atletiekafrigting besondere aandag gee."
Hy sê dat kennis van die verskillende tegnieke en oefenprogramme nie noodwendig 'n goeie metode van afrigting verseker nie.
By die afrigtingskliniek wat onlangs in die Riverville-sportstadion in Riversdal aangebied is en gemik was op stappers en naellopers, het afrigters praktiese demonstrasies gebruik om atlete meer aktief tydens die kliniek te laat deelneem. Dit was 'n kombinasie van verskeie wenke, spesifieke, doelgerigte oefenmetodes en beginsels en tegnieke.
Daar is ook aandag gegee aan foutontleding en korrigering van foute, die oefenprogram en fisiologiese aspekte.
"Met doelgerigte afrigting kan ons topbaan- en veldatlete oplewer soos Jadrean Prins, wat tans die 27ste vinnigste atleet in Afrika is en ook die 194ste vinnigste 400 m-atleet in wêreldatletiek.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’