STILBAAI NUUS - 'n Paar verfstrepe op die vloer van 'n skoolsaal mag dalk eenvoudig lyk, maar vir Melkhoutfontein Primêr is dit die begin van nuwe geleenthede vir jong pluimbalspelers.
Op Maandag 10 Augustus het vrywilligers van die Stilbaai- en Albertinia-pluimbalklubs hul vakansiedag opgeoffer om twee pluimbalbane in die Ruby Flores-skoolsaal van Melkhoutfontein Primêr uit te meet en te verf.
Die projek is onder leiding van Eden-pluimbalfederasie se ontwikkelingsbeampte, Ursula van Huyssteen, en hoofafrigter, Jaco Geldenhuys, aangepak en vorm deel van die federasie se doelgerigte ontwikkelingsprogram om skole en klubs in die streek van die nodige fasiliteite en toerusting te voorsien.
Pluimbal is een van die wêreld se gewildste sportsoorte en bied aan spelers geleenthede om op plaaslike, provinsiale, nasionale en internasionale vlak mee te ding.
Afrigting sal binnekort op die nuwe bane by Melkhoutfontein Primêr begin. Wie weet - dalk lewer hierdie eenvoudige verfstrepe die volgende Eden-pluimbaltalente op wat eendag op groter verhoë sal meeding.
Vir meer inligting oor die program kan Ursula van Huyssteen by 084 503 8481 gekontak word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’