SUID-KAAP NUUS - Twee tweekampbyeenkomste is sommer vroeg in die nuwe jaar op die kalender.
Die Eden-proewe vind op 15 Januarie om 17:00 op Oudtshoorn plaas, terwyl die Eden-dubbels op 22 Januarie om 18:00, ook op Oudtshoorn plaasvind.
Tweekamp bestaan uit swembadswem en baanhardloop. Die tyd behaal in beide die swem en hardloop word in punte omskakel en dan bymekaargetel vir die totaal. Vanaf die junior veterane word bonuspunte bygereken vir elke jaar wat die atleet ouer is as die aanvangsdatum.
Die amptelike seisoen strek vanaf September tot April. Verskeie byeenkomste word elke seisoen aangebied; vier ligabyeenkomste, vier ontwikkelingsklinieke, asook ten minste twee interprovinsiale
byeenkomste wat tussen George, Oudtshoorn en Mosselbaai roteer. Die kleredrag vir ligabyeenkomste is die skool of klub se amptelike atletiek- en swemdrag. Provinsiale klere word net vir provinsiale geleenthede gebruik. Skole, klubs en atlete registreer en lisensieer by die eerste byeenkoms in Oktober van elke jaar.
Met die skoleliga kan die twee beste laer- en hoërskole deurdring na die interprovinsiale en nasionale byeenkomste.
Tweekamp betrek die hele gesin.
Die tradisionele interprovinsiaal waar agt provinsies deelneem, word jaarliks as die DCAS/Highgate Groter Oudtshoorn interprovinsiale tweekampbyeenkoms op 2 Februarie op Oudtshoorn aangebied. Die SA kampioenskap op 31 Maart word in Port Elizabeth deur OP-tweekamp aangebied.
Om in aanmerking te kom vir die SA kampioenskap moet 'n atleet aan die Eden-kampioenskap, ten minste een interprovinsiaal en drie liga-, waarvan een 'n proewebyeenkoms mag wees, gedurende die seisoen deelneem.
Vir enige navrae kan Dave van der Walt by 082 773 4901 gekontak word.
'Ons bring jou die nuutste Suid-Kaap nuus'