Update
HEIDELBERG ROLBALNUUS - Om twee sportsoorte te meng en sosiaal daaraan deel te neem is nie in enige sportkode se vermoë nie.
Heidelberg-rolbalklub het egter met 'n unieke plan vorendag gekom en rolbal in 'n krieketformaat saamgesmelt.
Die spel vind steeds op die rolbalbane plaas en rolbalballe word aangewend om die krieket-aksie en idee te vervolmaak. 'n Kring word met meel op die baan getrek, die witbal (jack) word dan in die middel van die kring geplaas en dien so as die krieketpaaltjie.
Met die paaltjie 'geplant' word spelers se rolbalvernuf op die proef gestel om 'n kriekettelling op te stel. Die speler wat die bal die naaste aan die witbal rol, neem dan so 'n paaltjie. Indien 'n bal buite die kring stop, word vier punte aan die teenstanders toegeken. Spel vind plaas met ses koppe as boulers en ses koppe as kolwers.
Die derde van ses Donderdae se rolbal-krieket het Donderdag, 29 Oktober by die klub plaasgevind.
Die finaal vind op Donderdag, 19 November plaas.
Heidelberg rolbal-krieket het vanjaar 14 spanne wat deelneem. Vier van die spanne is nuwe deelnemers, wat nie laasjaar saamgespeel het nie.
Die nuwe spanne is Arista se Bubbling Broccoli, Mighty Marrows, Pepper Pirates en Cute Cucumbers.
Na die derde rondte is daar agt spanne wat twee wedstryde gewen het. Hulle is Warriors (2018 en 2019 se kampioene), Blue Jeans (2016 en 2017 se kampioene), die Rockers, Fire Ballz, Bowling Stones, Old Farts, Techron Riders en Pepper Pirates.
Die Leeukoppe, Proteas en Strafskop moet dit hierdie week uitspook om in tel te kom.
Vorige artikel: Unieke rolbal-krieketliga op Heidelberg
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'