Update
HESSEQUA SPORTNUUS - Sportlui mag ingeperk wees, maar 'n plan sal hulle maak om veilig te oefen.
Volgens Jonathan Abrahams van die Riversdal-muurbalklub het hul lede vinnig by die tye wat bane beskikbaar kan wees aangepas en hulle maak deeglik daarvan gebruik.
Hoewel geen wedstryde in die stadium toegelaat word nie, kan klublede die bane vir driekwartier gleuwe in die laatmiddag en vroegaand bespreek om te oefen. Naweke is ook beskikbaar.
Belangstellendes kan Jonathan Abrahams by 074 738 6357 kontak.
Die afrigter van Riversdal-krieket, Justin van Rensburg, lag lekker op die vraag hoe die spelers fiks bly gedurende inperking. "Dis 'n baie groot uitdaging, veral met die ekstra kilogramme wat aangesit word," sê hy. Die klub het die verantwoordelikheid om te oefen op die individuele spelers se skouers geplaas en elkeen moes vir homself 'n oefenroetine uitwerk. "Dissipline speel 'n sleutelrol en die manne daarsonder sukkel. Ons het ook nie oefentoerusting by ons huise nie."
Van Rensburg het lof vir die senior spelers van die klub wat hul fiksheid ernstig opneem. "Party van hulle het oefenplanne geïmproviseer wat hulle nooit andersins sou uitgedink het nie."
Krieketspelers van Albertinia is volgens die voorsitter van die klub, Eustice Saayman in die knyp met oefening omdat almal tuis is. "Ek dink nie hulle het al begin oefen nie."
Daar is heelwat onsekerheid onder sportliefhebbers oor wat toegelaat word en wat nie. Sommige klubs met wie Suid-Kaap Forum gesels het sê hulle oefen, maar wil nie inligting daaroor gee nie. "Ons is baie versigtig om nie enige reëls te oortree nie, maar is baie onseker," het een voorsitter op Riversdal gesê.
Bertus van Zyl en Malandi Oosthuizen
Chadwin Paulsen met die kolf.
Chadwin Paulsen aan die oefen.
Vorige artikel: Inperking kan sportlui maak of breek
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'