TUINROETE DISTRIK SPORTNUUS - Jukskeispelers vanaf Jongensfontein, Stilbaai, Gouritzmond, Groot-Brakrivier, Danabaai, Riversdal, Albertinia en uiteraard vanaf Hartenbos, het verlede Saterdag op Hartenbos saamgetrek vir die gewone ligakompetisie asook 'n algemene sosiale mededinging.
Jukskei is feitlik sinoniem met sonskyn en windstilte, maar dit was nie die geval tydens die wedstryde nie. Die wisselvallige weer, veral die wind, dan suid-wes, dan weer suid-oos en by tye warrelend, het spelers ontstig.
Die gevolg was dat min skofte aangeteken is en tellings van 8 – 7 of 7 – 8 was aan die orde van die dag.
Tog was 'n algemene vrolike gesindheid onder spelers waarneembaar.
Die eerste drie wedstryde is op ligabasis beslis. Daarna is vier leiers in die B-afdeling gekies met drie ondersteunende spelers saam met elke leier.
Hierdie spansamestelling het ook aan sosiale spelers die geleentheid gegee om saam met die amptelik geregistreerde spelers te kan kompeteer.
Merkwaardige toewyding en entoesiasme word op hierdie wyse deur sosiale spelers geopenbaar. Die mededinging was straf maar eweneens genotvol.
Die C-afdeling wat uit ses spanne bestaan het, het mekaar behoorlik die stryd aangesê.
Gouritzmond het die eerste plek behaal met goeie jukskei en 'n gemiddelde punt van 9½ per wedstryd. Mosselbaai was tweede, met Stilbaai in die derde plek. Die uiteindelike punte het weinig verskil. Dit dui op 'n strawwe wedywering tussen die verskillende spanne (sien puntetotaal).
Die finale uitslae is soos volg (liga):
B-afdeling:
Hartenbos B1 (26½); Hartenbos B2 (23); Groot-Brak (22), Riversdal (18).
C-afdeling:
Gouritzmond (48½); Mosselbaai (45½); Stilbaai (C1 (41½) ; Hartenbos (35½); Stilbaai C2 (27½) ; Riversdal (25½).
Die dag is gesellig afgesluit met die uitdeel van klein belonings aan spelers in alle spanne. Tyens die afsluiting is die Eden-spanne vir die Driehoekstoernooi tussen Eden, Oostelike Provinsie en Kaapse Wynlande (vroeër Boland) op Saterdag, 16 Oktober op die Hartenbosbane aangekondig.
- A-span: Elna van den Berg, Dolf Barnard, Bossie Boshoff (L) en Sydney Stopforth.
- B1-span: Ewie Engelbrecht, Annette Esterhuyse , Johan van Dyk en Jan van Dyk (L).
- B2-span: Chris Viljoen, Rina Conradie, Johan Brummer en Hendry Gerber (L).
- C1-span: Jackie Hanekom, Viandré Fourie, Louis Minnaar en Abie Barnard (L).
- C2- span: Elias Burger, Koot Swart, Annemarie van Staden en Emmie Prinsloo (L).
- C3 -span: Magriet Hanekom, Crusta van Heerden, James van Tonder en Malie Pierce.
Die opening is om 07:30. Spelers moet kennis neem dat die kleredrag dié van Eden-distrik sal wees. Spelers wat nie oor die voorgeskrewe hemde beskik nie kan in wit hemde speel.
Wenners van die B1 ligawedstryde: Johan Brummer, Chris Viljoen, Dolf Barnard en Bossie Boshoff.
Die sosiale span van Groot-Brakrivier wat derde geëindig het in die sterk B-afdeling: Nico Venter, Elias Burger, Sarel du Plessis en Terra Nortier.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'