Gallery Update Video
RIVERSDAL ROLBALNUUS EN VIDEO - In 'n titaniese stryd om die mans enkelkampioen eindstryd by Riversdal-rolbalklub, het die 25-jarige Brandon Damons die verwoording van rolbal as 'n 'oumensspel' verkeerd bewys.
Damons en die senior klublid, Louw Bester het mekaar Saterdag, 13 Februarie in die finaal die stryd aangesê.
Hoewel Bester die wedstryd gewen het, het die jong Damons gewys rolbal is vir 'oud' én jonk.
Hy het nooit opgegee nie en met skitterspel deur albei spelers was dit 'n opwindende spel met skote wat gerol is soos die voorgeskrewe opleidingsboeke dit nie kan beskryf nie.
Fotogalery: Titaniese stryd op rolbalbaan
Die skeidsregter het bepaal dat spel oor 18 koppe sal plaasvind, met die eerste speler wat 21 punte agter sy naam het wat dan die klub se mans enkelkampioen sal wees.
Bester het na die vyfde kop 7-1 voorgeloop en dit het gelyk of die skrif aan die muur was. Damons het teruggeveg en sy balle al om die witbal (jack) tot stilstand gebring.
Slegs drie koppe later, op die negende kop was die telling 7 elk en Bester moes sy fokus instel en konsentreer om weer 'n voorsprong op te bou. Hy het dan ook so gemaak en op die sestiende kop het die telbord op 20-11 in Bester se guns gestaan. Met net een punt nodig voor die agtiende kop om as wenner gekroon te word, het Damons wéér teruggeveg en die sewentiende en agtiende koppe gewen om die telling op 20-14 te staan te bring.
Agtien koppe was geboek, maar Bester kon nog nie die 21 wenpunte aanteken nie.
Die skeidsregter en wedstrydsekretaris, Marie Boshoff moes besluit of spel gaan voortgaan met drie koppe oor en of sy Bester die wenner gaan verklaar. "Speel voort," was Boshoff se besluit.
Damons het die negentiende kop ook gewen en met die telling op 20-15 in Bester se guns en twee koppe oor, is benoude oomblikke beleef.
'n Speler kan 'n kop met vier punte wen, wat Bester duidelik laat besef het die trofee is nog in die weegskaal.
Hy het egter die twintigste kop met een punt gewen en sodoende die kampioenskap gewen.
Kyk 'n video hieronder:
Brendon Damons in aksie, met Louw Bester wat toekyk. Foto's: Christo Vermaak
Louw Bester (mans enkelkampioen) en Brendon Damons.
Vorige artikel: Jongeling laat rolbalkampioen sweet
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'