Update Video
RIVERSDAL NUUS EN VIDEO - 'n Matriekseun van Riversdal het Saterdag 8 Junie vir die eerste keer aan 'n liggaamsboukompetisie deelgeneem en twee plekke verwerf.
Tao Truter (19) het vierde plek in die Juniors o.23 en derde plek in die Novice Men o.75 kg in die Garden Route Casino Body Building Classic op Mosselbaai verower. "Dit was 'n groot verrassing," vertel hy.
Tao het op Riversdal grootgeword. Hy was op Laerskool Volschenk, en is tans in matriek aan Hoërskool Langenhoven. "Ek het in gr. 10 so tussen die skoolwerk deur begin oefen, maar aan die begin van verlede jaar het die passie ingeskop en ek het met mening begin oefen. Ek het 'n maand voor die kompetisie daarvan gehoor, maar getwyfel of ek gereed is. My oefenmaats het gesê ek moet net aanhou hard werk - en toe eindig ek daar!"
Hy vertel hy het begin oefen om sy frustrasies weg te werk. "Ek was 'n hardegat tiener met baie aggressie. In die gim, waar ek elke spier in my liggaam laat werk, kalmeer ek. Dit maak my kop helder. As ek na 'n oefensessie by die huis kom, wil ek net stort, eet, my huiswerk doen en gaan slaap. Niks meer rondlopery en stout wees nie."
Dis was nog altyd vir hom belangrik om 'n gesonde liggaam te hê wat 'n mens slegs deur 'n gesonde leefstyl verkry. "Jy kan nie die hele vakansie leeglê, rook en drink en dink jy kan teruggaan gim toe nie - dit werk nie so nie. Jy moet heeltyd gesond leef."
Kyk 'n video hieronder:
Liggaamsbou is 'n duur sport. Buiten gimfooie is daar dieetaanvullings en spesiale kossoorte vir spesifieke effekte. "Jy het proteïen en koolhidraat nodig om groot spiere te bou, maar as jy jou spiere wil sny (meer definisie gee), moet jy die koolhidrate uitskakel en meer groente en vrugte eet."
Beserings is ook deel van die proses. "As jy 'n besering opdoen, is dit jou liggaam se manier om vir jou te wys op 'n oefenfout."
Jaden Hartnick, bestuurder van Jade's Fitness, is 'n gekwalifiseerde ligaamsbouafrigter en hy verskaf riglyne, maar Tao werk sy eie oefenprogram uit.
Wat is die stil, blonde seun se boodskap vir ander tieners? "Moenie bang wees om jou droom na te volg nie. As jy liggaamsbou wil doen, gaan niks jou keer nie." Dis nie altyd maklik nie want dit verg baie opofferings. "Soms kan 'n mens nie familiefunksies bywoon nie, want jy moet ure in die gim deurbring om jou doel te bereik."
Hy wil graag na skool sportbestuur studeer, maar het nog nie besluit waar nie. Vir nou is daar eers nog 'n kompetisie in Kaapstad op die horison, en daarna lê die eindeksamen voor.
IN SHORT
Tao Truter (19) is a novice bodybuilder who obtained two places in the recent Garden Route Body Building Classic in Mossel Bay. He started working out in the local gym to curb aggression, and is thoroughly enjoying the results of his hard work.
•Lees 'n vorige artikel hier: Tiener presteer in liggaamsbou
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'