TUINROETE DISTRIK SPORTNUUS - Deesdae, met die nuwe normaal wat ons beleef, word jukskei wel gespeel, maar elke 14 dae word kompetisies beplan.
Die hoofrede daarvoor is dat indien Covid-19-gevalle mag opduik, word 'n redelike tyd vir herstel gegun.
Die afgelope Saterdag is 'n opedag op Riversdal gehou.
Verrassend genoeg het vyf spanne van Worcester in die onderskeie A-, B- en C-afdelings ingeskryf. Eden het self nie op sy louere gerus nie en het nege spanne in die dubbelspel ingeskryf.
Daar is in dubbelspel sowel as in spanverband (vier spelers per span) in die A- en B-afdelings meegeding. Die C-afdeling het slegs in die gewone spanverband hul kompetisie besleg.
Wanneer A- teen B-spanne meeding is dit soos die spreekwoordelike Dawid en Goliat geveg. In voormelde wedywering speel geloof nie so 'n groot rol nie, maar wel gehalte van spelers en veral om die besliste afrondingshoue uit te stal wanneer dit vereis word.
Dus ‘n ongelyke stryd tussen A- en B-spanne, maar tog uitdagend. Soveelso dat Hartenbos se B-span 'n skof kon inpalm teen die sterker A-span van Worcester.
Die A-spanne het mekaar deeglik opgekuil. In die dubbels het Worcester A1 met die louere weggestap, terwyl Hartenbos tweede geëindig het, met Worcester A2 derde. Vanweë 'n voetbesering van Dolf Barnard kon Hartenbos se A2 span nie die dubbels voltooi nie.
In die B-afdeling het Hartenbos se B-span in albei formate (span en dubbels) die botoon gevoer en eerste geëindig.
In die C-afdeling het die goed gebalanseerde span van Riversdal C1 slegs met 'n ½ punt (48) bo Mosselbaai C (47½) geëindig.
Die finale uitslae is soos volg:
A-span - dubbels:
Worcester A1 (20½) ; Hartenbos A1 (17½); Worcester A2 (7); Hartenbos A2 (nie gespeel).
B-span - dubbels:
Hartenbos B1 (32½); Worcester B1 (30); Worcester B2 (14½); Hartenbos B2 (13).
A- en B-kompetisies gesamentlik:
Hartenbos A (32½); Worcester A (25); Hartenbos B (20½); Worcester B (12).
C-afdeling:
Riversdal C1 (48); Mosselbaai (47½); Worcester (38½); Stilbaai (35); Hartenbos (30½); Riversdal C2 (25½).
Spelers wat beskikbaar is vir 'n jukskeitoernooi op Despatch (Oos-Kaap) wat vir 27 Maart beplan word, moet hul name so gou as moontlik aan Henry Gerber, direkteur van Jukskei in die Eden-distrik deurgee by 073 703 4311.
Dit is baie belangrik ten einde vervoer en verblyfreëlings te kan beplan.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'