Gallery Update
STILBAAI NUUS - Dit was 'n vrolike oggend in die veld tydens die maandelikse Kasselshoop Farm Run en stap wat Saterdag 26 Oktober buite Stilbaai plaasgevind het.
Die vyf en 'n half kilometer roete is deur 62 deelnemers aangepak en baasgeraak.
Boonop was dit die ideale geleentheid vir die Meerkatte-span van Riversdal se Voortrekkers om hul 'vasbyt'-stap te doen. 'n Paar werknemers van Hessequa-munisipaliteit het ook die geleentheid gebruik om ter nagedagtenis aan wyle Harold Basson deel te neem. Basson was 'n kranige atleet en het al die Kasselshoop Farm Run gewen. Hy sou ook Saterdag deelgeneem het.
'n Helder sonskynoggend na die vorige aand se bietjie reën het die jonges in liggaam en gees, besoekers en gereelde deelnemers begroet. Dit was uiteindelik die agtjarige Willem-Daniël Matthee van Laerskool Bertie Barnard wat die jongste algehele wenner geword het toe hy die afstand in 'n tyd van 26 minute en 19 sekondes kafgedraf het. Hy is minder as 'n minuut later deur Hendrik Prins van Riversdal gevolg, met nóg twee 'Berties', Schalk Fouché, wat ook al gewen het en Gysbert Rademeyer derde en vierde. Jean du Randt was vyfde.
In die damesafdeling was twee leerders van Laerskool Bertie Barnard eerste by die eindpunt met Luanné Janse van Rensburg wat háár eerste oorwinning aangeteken het, terwyl Isabella Vorster wat al voorheen gewen het, net so sewe sekondes agter haar was. Michelle Pretorius was derde in dié afdeling gevolg deur Jacqueline Mostert en Lizette Cronjé.
Families, gesinne en vriende het saam die roete voltooi en sommer opgevang met geselsies en nuus. Die groot hoeveelheid kleurvolle veldblomme was vir heelwat mense 'n besondere ervaring.
Die 12de Kasselshoop Farm Run en stap wat die laaste kans is om dié reeks se medalje te verdien, sal op 30 November plaasvind. Elke Saterdag gedurende Desember sal 'n vyf kilometer Farm Run gehou word en wel op 7, 14, 21 en 28 Desember, asook op 4 Januarie 2020.
Willem-Daniël Matthee.
Lees 'n vorige artikel hier: Pret op die plaas
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'