HESSEQUA NUUS - Minister Anroux Marais het tydens 'n seremonie wat deur die Wes-Kaap departement van kultuursake en sport (DKES) aangebied is, 'n tjek van R2 095 000 aan verskeie Eden-sportfederasies oorhandig.
Dié seremonie is op Riversdal in die burgersentrum op Dinsdag 17 April aangebied. Die geld sal tussen 36 Eden-sportfederasies vir administrasie, transformasie, ontwikkeling en kapasiteitsontwikkeling vir die aanbieding van topbyeenkomste verdeel word.
Dit is die grootste bedrag ooit ontvang vir sportontwikkeling in die Eden-distrik.
Tydens die seremonie wat in vennootskap met die Hessequa-munisipaliteit aangebied is, het die Eden-sportraad 'n puik getuigskrif ontvang. Dié raad word beskou as die bes-georganiseerde en operasionele distrik sportraad in die Wes-Kaap.
Hulle spog met 'n 98% nakoming van verpligtinge, 100% teenwoordigheid van federasies by die tri-laterale aanbiedings en die tjekoorhandigingseremonie, die toonaangewende Eden-sportakademie en 'n goed-gestruktureerde en operasionele skoolsportstelsel.
Eerbewys is ook betoon aan die uittredende sekretaris van die Eden-sportraad, Dave van der Walt.
In haar toespraak het Marais dit duidelik gestel dat DKES verbind is om geleenthede vir die jeug te skep. Ook die rekonsiliasie en ontwikkeling van die Wes-Kaapse gemeenskap deur die voorsiening van gelyke toegang tot en bekostigbare sportfasiliteite, programme en dienste. Dit alles moet bydra tot 'n gesonde leefstyl, eenheid, respek, diversiteit en 'n gevoel van "ek behoort".
In die Wes-Kaap (6 distrik sportrade) word 131 sportfederasies met R5,4 miljoen gefinansier, R260 000 is aan transformasieprojekte toegeken en R400 000 begroot om administrateurs en sportpersone van geaffilieerde lede by te staan om aan internasionale byeenkomste te kan deelneem.
Eden-sportraad ontvang hulle tjek. Van links: dr. Lyndon Bouah, Desmond Speelman, minister Anroux Marais en Dave van der Walt. INLAS: Hier ontvang Corné Bence (middel) Eden- fietsry se tjek. Links is burgemeester Grant Riddles en regs minister Anroux Marais.
Die hoofdirekteur van sport in die Wes-Kaap, dr. Lyndon Bouah, het begunstigdes van die toekennings egter gewaarsku dat die fondse ekonomies gebruik moet word en dat gereelde rapportering en terugvoering deel van die ooreenkomste is.
In sy bedankings het die voorsitter van die Eden-sportraad, Desmond Speelman, hulle ondersteuning aan alle sportfederasies aangebied met die uitdagings wat hulle ondervind.
Hy het ook die minister bedank vir hulle vertroue in die Eden-sportraad met die finansiering en het die Eden-kantoor van DKES bedank vir die goeie reëlings van die seremonie.
Die burgemeester, Grant Riddles, is vir hulle optrede as gasheer vir die geleentheid bedank.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'