Gallery Update Video
RIVERSDAL NUUS EN VIDEO Die Hessequa Domino Vereniging (HDV) het Sondag 3 Maart hul 10de verjaarsdag met 'n domino-kompetisie gevier.
"Die klub het 10 jaar gelede begin om aan kompetisies deel te neem," verduidelik Freek (Vaatjie) Adams, voorsitter en van die stigterslede.
Die HDV bestaan uit ses klubs, wat Klipdrifhoogte, Griekwas, Nietverloren, Supersterre, Young Stars en Western Flyers insluit. 'n Span wat uit hierdie klubs se lede bestaan, het die naweek teen lede van Eden, Langeberg en Boland deelgeneem. Hessequa het die kompetisie met 138 punte teen die naaswenner Eden se 121 punte gewen.
Dié kultuuraktiwiteit is baie gewild onder gemeenskapslede. "Dit is 'n gewilde tydverdryf vir oud en jonk. Dit hou die grootmense uit die moeilikheid en die kinders weg van die versoekings van die strate." Die oudste lid van die Hessequaspan is 84 jaar oud, en die jongste agt.
Die spanne speel gereeld in kompetisies. "Ons speel die tuiswedstryde sommer by ons huise, maar die streekskompetisies word gewoonlik in 'n saal gehou."
Volgens hom het domino's'baie tierlantjies'. "Vier spelers kom op 'n keer teen mekaar te staan in spanne van twee. Die domino's word geskommel en elkeen neem sewe blokkies. Die spelers mag glad nie praat nie, maar die omstanders mag hulle aanmoedig. As jy die blokkie hard op die tafel klap, beteken dit dat daar 'n groot ding kom! Die twee wat verloor, verlaat die tafel en twee nuwes kom by. Die speler regs van die een wat die vorige ronde gewen het, speel eerste in die volgende ronde."
Sondag se byeenkoms was 'n uitdunkompetisie vir die streekskampioenskappe.
"Ons wil baie graag die Hessequa-munisipaliteit, Hessequa-sportraad, SuperSpar Riversdal, Gomes Vervoer, 3@1 Printers Riversdal en mnr. D. Rapagadie bedank," het Adams gesê.
Kyk 'n video hieronder:
Lees 'n vorige artikel hier: Domino-vereniging vier 10 jaar
Sophia Adams van Hessequa. Foto’s: San-Marié Cronjé
Nie eens ’n rolstoel keer David Oosthuizen nie.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'