Nie alleen het die Dasse gedurende die week vir Hoërskool Bredasdorp op hul tuisdorp laat les opsê nie, maar het die afgelope naweek daarop voortgebou en Hoërskool Sentraal se neuse behoorlik op Beaufort-Wes in die grond gevryf. Van die 25 wedstryde wat die afgelope week afgehandel is, was die Dasse slegs driekeer aan die verloorkant en het die eerste spanne uitsonderlik presteer.
Dag vol wenne
Die eerste hokkiespan klop Bredasdorp 3-0 en volg dit op met 'n 2-0 wen teen Sentraal, terwyl die eerste netbalspan Bredasdorp 21-13 klop en daarna die Beaufort-Wessers behoorlik roskam en 56-4 wen.
Die Dasse se eerste rugbyspan het 'n welverdiende oorwinning van 15-11 teen Bredasdorp behaal en daarna voortgegaan en Sentraal 57-3 geklop. Dit was ook die eerste keer dat albei die o.19-rugbyspanne vir Bredasdorp op sy tuisveld kon troef.
'n Goeie week van goeie sport en wat veral verblydend is, is die spelkwaliteit wat deur die Dasse-spanne opgedis is en wat goeie vooruitsigte vir die res van die seisoen voorspel.
André van Staden, bulslot van die Dasse met een van sy kenmerkende stormlope.