HESSEQUA NUUS - Die 560kg-A-toutrekspan van Hoër Lanbouskool Oakdale is Vrydagaand 27 Julie tydens die SWD-sporterkenningsgeleentheid op Oudtshoorn aangewys as die SWD-sportspan van die jaar.
Hierdie toekenning is gemaak op grond van hul verwerwing van die silwermedalje tydens verlede jaar se wêreldkampioenskap te Southport in Engeland. Die span dring deur na die Wes-Kaap Sporterkenningsgeleentheid waar die wenners van die Wes-Kaap aangekondig sal word.
Christo Vermaak van Group Editors het 'n toekenning vir SWD-sportjoernalis van die jaar ontvang.
Atletiek SWD onder die voorsitterskap van Shireen Noble, uit 50 geaffilieerde federasies, is aangewys as die topfederasie in die Eden-distrik vir vanjaar.
Die toekenning vir Sportman van die Jaar is Jovan Rebula (gholf) en die Sportvrou van die Jaar die immergroen Elma Davis (rolbal).
Die Presidentstoekenning het vanjaar aan die sport administrateur, Dave van der Walt gegaan.
Christo Vermaak van Oudtshoorn Courant, Suid-Kaap Forum se susterskoerant is as SWD-sportjoernalis aangewys.
Volgens die voorsitter van die reëlingskomitee, Rudi Claassen, moes meer as 190 nominasies verwerk word om die wenners in die 33 kategorieë aan te wys. Nominasies van hoogstaande gehalte is ontvang en was die komitee aangenaam verras met die getal genomineerdes wat op internasionale vlak presteer het. Die gasspreker, Ashwin Willemse 'n oud-Springbokrugbyspeler was spreker by die geleentheid.
Namens die Wes-Kaapse departement van kultuursake en sport het die hoofdirekteur van sport en rekreasie, dr. Lyndon Bouah, weereens die ondersteuning van sy department onderstreep.
Die wenners van die kategorieë soos aangebied deur die Wes-Kaap Sporttoekennings op 25 Augustus vanjaar word outomaties finaliste. Hulle sal ingelig word sodra die finale reëlings ontvang is.
Die 560kg-A-toutrekspan van Hoër Lanbouskool Oakdale tydens verlede jaar se wêreldkampioenskap te Southport in Engeland.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'