Nadat die Federasie vir Billy Kitchenbrand na die plaaslike prysuitdelingsfunksie van 2011 genooi is, het hy onderneem om 'n wedvlug in 2012 te borg wat ten doel sou hê om fondse te genereer vir die vervoerfonds aangesien daar beplan word om die 2012 seisoen die duiwe met 'n nuwe, betroubare vragmotor te vervoer. Hierdie borgskap sou ook die skenk van vyf duiwe behels wat verdeel sal word in die vier streke wat almal van dieselfde vervoer gebruik maak soos Beaufort-Wes, Riversdal, Karoostreek en die Kusstreek.
Twee duiwe sal na die kusstreek gaan agv die feit dat daar baie meer lede in hierdie streek duiwe vlieg.
Daar is bepaal dat die wedvlug vanaf Boshoff (620km) gevlieg sou word en met die aanbreek van die wedvlug was daar 'n ongekende opgewondenheid onder die duiweboere en die wedvlug is goed ondersteun met die nominasies wat 'n totale bedrag van R15 000 opgelewer het.
Op 'n pragtige mooi sonskyndag, met 'n effense noord-weste wind is die duiwe om 07:00 losgelaat en die eerste duif van Jacques Zeelie het sy hok om 15:27 bereik wat ook sy Kitchenbrand nominasie was. Die vyf wenners in die onderskeidelike streke was Lious Snyman van Beaufort Wes, Maka Swart van Riversdal, André Burger van die Karoostreek, Jacques Zeelie en Harm Venter (beide van die Kusstreek).
Billy het toe die vyf duiwe George toe gevlieg en dit was 'n heerlike gebeurtenis toe die 5 duiwe aan die wenners kon oorhandig is tydens die jaarlikse prysuitdelingsfunksie.
Die Kitchenbrands het dit goed gedink om 'n sesde duif te skenk aan 'n duiweboer wat baie entoesiasties is, maar sukkel om finansieel kop bo water te hou te oorhandig. Die betrokke duiweboer is toe geidentifiseer maar hy was toe so groothartig om die duif aan die Federasie te skenk om opgeveil te word sodat hulle klub se skulde vereffen kon word. Die eviling het toe R5 100 opgelewer. Niekie Groenwald, van Uniondale, was die koper van hierdie uitstaande wyfie.
"Dit is vir ons werklik 'n behoefte," het Harm Venter gesê, "om aan die Kitchenbrands, Billy en Mark, 'n woord van dank en waardering te rig vir hierdie pragtige gebaar om op so 'n wyse betrokke te kon raak by die duiweboere in die Suid Kaap. Baie dankie vir die duiwe wat julle geskenk het en die manne is veral beïndruk met die hoogstaande kwaliteit van die duiwe.
"Ons is bewus van die feit dat hierdie duiwe vir baie geld verkoop of selfs uitgevoer kon word. Baie dankie dat julle bereid was om ons te ondersteun en hoop van harte dat ons paaie weer in die toekoms kan kruis," het hy namens die Federasie gesê.

Die wenners van die Kusstreek-kampioenskap vir 2012 is van links Danie Barnard, Christo Pretorius, Retha Pretorius en Jan Rossoeau almal van Mosselbaai. Danie en Jan is vir die tweede agtereenvolgende jaar aangewys Kampioene van die Kusstreek.