SUID-KAAP ROLBALNUUS - Heelwat byeenkomste het oor die afgelope paar weke by Riversdal-rolbalklub plaasgevind.
Die lede het egter ook op ander dorpe gaan rol.
Interklub-liga
Twee spanne het Saterdag, 9 Oktober aan die interklub-liga op Stilbaai deelgeneem. Die trips-span is deur Hennie Steyn, Gerald Enright en Geoffrey Prins verteenwoordig en die dubbels deur Retha Lategan en Miemie du Plessis.
Die uitslae was teen druktyd nog nie bekend nie.
Mosselbaai Presidentsdag
Die klub het Saterdag ook 'n span hiervoor ingeskryf, bestaande uit Ashley Basson, Brendon Damons en Charldré Saayman. Hulle het 'n algehele tweede plek behaal.
O/20 Eden-span
Shanelle Saayman het vir Eden in een van hul twee o/20-spanne vanaf 5 tot 7 Oktober (A-span) in die Envar Buys junior toernooi op Porterville verteenwoordig.
Eden-liga
Twee spanne het vir die eerste keer aan die Eden-liga onderskeidelik op 18 September op Groot-Brakrivier en 2 Oktober op Sedgefield deelgeneem. Riversdal 1 het uit Bennie Basson, Ashley Basson, Celvin Basson, Brendon Damons en Charldré Saayman bestaan. Riversdal 2 was Hennie Steyn, Francois Damons, Fritz Kriel, Marius Saayman en Gerald Enright.
Riversdal 1 het 'n algehele tweede plek behaal en Riversdal 2 het 'n algehele sesde plek in die vierde afdeling behaal.
"Spel was baie lekker en moeilik, maar ons manne het verskriklik goed gevaar," het Charl Nortjé, mediabeampte van die klub gesê.
Volgens Nortjé loop die sosiale liga nog sterk en is daar nog net vyf wedstryde oor voor die uitkloprondes begin. Alle spel geskied ingevolge streng Covid-19-regulasies soos voorgeskryf deur Eden Bowls & BSA.
Die klubpresident, Elna de Wet (heel regs), staan by Charldré Saayman, Ashley Basson en Brendon Damons wat goed tydens die Mosselbaai Presidentsdag gevaar het.
Die Eden-liga is verteenwoordig deur Brendon Damons, Celvin Basson, Bennie Basson, Marius Saayman, Charldré Saayman (voor), Ashley Basson, Hennie Steyn, Francois Damons, Gerald Enright en Fritz Kriel.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'