Gallery
WITSAND SPORT NUUS - Die plaaslike rolbalklub het op 28 November leerders van Vondeling Primêr se dag gemaak.
Net na 09:00 het 'n bussie met 19 gr. 5 en 6-leerders opgedaag en die opwinding was duidelik sigbaar. Skoene is uitgeskop en daar is gou weer 'n les oor die basiese reëls van die spel gegee om die geheue te verfris oor waar die swaaikant is en wat die invloed van die wind gaan wees.
Toe is dit baan toe met die klein oefenballe en balle wat lede vir die oggend aan die klub geleen het.
Die leerders is in vier groepe verdeel en elke groep het saam met 'n paar klublede gespeel. Na so 'n uur se rol het almal 'n koeldrank geniet.
Nadat Jeanette Becker met 'n glimlag eers gou 'n oopgeskeurde broek moes regmaak, het die leerders hul hand aan 'Survivor' gewaag.
Fotogalery: Rolbal maak kinders se dag
Die talent het toe sterk na vore gekom, want jy moet die bal kan trek. Na 'n middagete onder die melkboom van hoenderburgers deur Anchorage Restaurant verskaf, is die eindronde gespeel. Al die wenners van die uitdun het teen mekaar gespeel, met die res van die leerders as toeskouers. Die kwaliteit van spel wat hierdie groepie gelewer het sal enige tyd baie aanvaarbaar op 'n klubmiddag lyk. Die wenner van die uitkloprondes het sy prys verdien.
Volgens die president van Witsand-rolbalklub, Jan Storm, voel die lede wat betrokke was hulle het 'n positiewe bydrae tot die leerders se lewe gemaak. Hulle sien uit na die volgende keer se saamspeel.
'Ons bring jou die nuutste Witsand, Hessequa nuus'