Gallery
STILBAAI NUUS - Stilbaai-rolbalklub se tweede aksie-rolbaltoernooi vir 2023 het spannend geëindig.
Op Donderdagaand, 9 November, was die laaste ronde vir die 20 spanne wat dit die afgelope ses weke uitgespook het om te bepaal wie die beste aksierolbalspan in Stilbaai is.
Heelwat spanne het gewys wat in hulle steek en dat hulle geen klub in die steek sou laat as hulle ernstig sou begin speel nie.
Vir die tweede keer agtereenvolgens het Manie Rood en sy span, Die Flintstones, met die beker weggestap en gewys dat hulle beslis die span is om te wen.
In die tweede plek was dit Oppit met die pragtige span van Roman Security kort op hulle hakke in die derde plek. Vet Pret het vierde klaargemaak, maar hulle het al klaar begin planne beraam om die volgende toernooi te wen.
FOTOGALERY: Stilbaai-rolbalklub se tweede aksie-rolbaltoernooi vir 2023
Tweede plek. Oppit met Ant Smith, Xenny Yazbek, Dewald Reynders en Adrian Lange.
Volgens Dup van Renen, president van Stilbaai-rolbalklub, was die gees van die spanne so goed tydens die hele toernooi dat hulle nie 'n wenner kon aanwys nie, maar die Kaartmannetjies van Putstop het weggestap met die prys vir die beste drag. Ben Vorster van Die Kaartmannetjies het egter al Donderdagaand gespog dat hulle drag vir die volgende toernooi die asems gaan wegslaan.
Dup het verder gesê dat hulle seker die enigste klub is wat sogenaamde "champions" by elke span het. Dit is 'n ervare lid van die klub wat sy of haar span bystaan met raad en afrigting en die kwaliteitspel wat gelewer word is 'n klinkklare bewys dat dit werk.
Hierdie jaar het daar ook 'n span deelgeneem wat geld ingesamel het vir kankerbewustheid. Charl Marais, Pinok Jacobs, Dirk Bosman, Rudie Delport, André Bezuidenhout en Pierre Le Roux, Die Gholfballies, het met hulle poging al
R11 250 gekry en glo dat hulle op R15 000 gaan klaarmaak as alle borgskappe in is.
Die volgende toernooi sal in Februarie 2024 begin en spanne word aangemoedig om nou reeds met die klub te skakel aangesien plekke beperk is en daar heelwat belangstelling is van nuwe spanne wat wil inskryf.
Derde plek. Roman Security met Silla Oosthuizen, Amanda Posthumus (Champion), Charlotte Olivier en Charlene Naudé.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’