HESSEQUA NUUS - Hessequa-munisipaliteit het in Mei verlede jaar voorgeneem om die bestaande sportterrein op Slangrivier en Melkhoutfontein te laat opgradeer.
Op Slangrivier sal 3 012 begunstigdes en 2 533 op Melkhoutfontein voordeel uit die opgraderings trek.
Die sportgemeenskappe sal in die volgende drie boekjare baat vind by onderskeie opgraderingsprojekte van sportfasiliteite.
'n Amptelike perskonferensie is deur die burgemeester, Grant Riddles, op Vrydag 9 Maart saamgeroep. Persone wat direk by verskillende sportsoorte in die streek betrokke is, het dit bygewoon en die geleentheid gehad om vra aan die munisipale bestuur te rig.
Riddles het tydens dié konferensie gesê: "Sport bring gemeenskappe bymekaar en gee hoop. Dit motiveer, ontwikkel en bind die gemeenskap.
Dit help om jong mense van drank en dwelms weg te hou. Ek wil hê dat elke gemeenskap eienaarskap moet vat. Elkeen van ons wat hier sit is in 'n leierskapposisie. Ons moet hande vat en saamwerk en bou."
Volgens die munisipaliteit sal projekte oor drie finansiële jare, 2018/2019, 2019/2020 en 2020/ 2021 plaasvind.
Die opgraderingsprojek sal finansier word deur twee bronne wat bestaan uit 'n munisipale infrastruktuurtoekenning (MIG) en munisipale finansiering:
- Slangrivier: 98% MIG en 2% munisipale finansiering
- Melkhoutfontein: 81% MIG en 19% munisipale finansiering
- Die totale uitgawe van die projek beloop ongeveer R10 miljoen vir Slangrivier en Melkhoutfontein.
Johannes Hartnick (onderburgermeester), Grant Riddles (burgemeester) en Johan Jacobs (munisipale bestuurder) tydens die perskonferensie.
Die munisipale bestuurder, Johan Jacobs, het tydens die konferensie genoem dat:
"Die opgraderingsprojekte vervat is in die munisipale vyf jaar geïntegreerde ontwikkelingsplan en beoog om werkskepping vir die plaaslike gemeenskap te skep. Die beplanning van die projekte sal in 2018/2019 boekjaar geskied en is afhanklik van die beskikbaarheid van die MIG finansiering."
Die opgradering van die volgende sluit in:
- Bestaande ablusiegeriewe
- Grasoppervlakte
- Outomatiese besproeiingstelsel
- Ondergrondse dreineringstelsel
- Oprigting van 'n paviljoen. 500 sitplekke vir Slangrivier en 400 sitplekke vir Melkhoutfontein
- Beligting
- Netbalbaan en oprigting van twee tennisbane per dorp
Hulle doelwit is om alle sportfasiliteite binne die Hessequa-streek op dieselfde standaard te bring.
Riversdal en Heidelberg beskik oor voldoende fasiliteite en die opgraderingsprojek van Albertinia se sportterrein is in Mei 2015 voltooi.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'