Na die eerste agtien putjies was die verdedigende kampioen, Jacques Cloete, reeds met tien houe voor. Die ander aanspraakmakers kon nie tydens die tweede rondte verbeter nie en wen Jacques die kampioenskap met rondtes van 70 en 67. Tweede was Gerhard Hough en derde Mario Jonker. Dit is die vierde keer agtereenvolgend en die sewende keer in totaal wat Jacques as die kampioen gekroon word. Baie geluk aan Jacques.
In die A, B en C afdelings, waar die kampioene op netto tellings bepaal word, was die mededinging baie strawwer en is daar tot op die einde nog gespook om bo uit te kom. Die uiteindelike wenners was as volg:
A Afdeling: 1) A. Michaels 148; 2) T. Cronje 149; 3) D. Deutchen 125.
B Afdeling: 1) K. Du Preez 136; 2) A. Kabiesz 139; 3) P. Sibson 144.
C Afdeling: 1) E.. Nel 139; 2) J. van der Nest 142; 3) P. Groenewald 144.
Dames: Die dames het ook hulle kampioenskap voltooi en is Mart Cronje met 'n telling van 179 as die bruto kampioen gekroon. Marie Pretorius is die B afdeling netto kampioen en Betz Calitz die C afdeling se netto kampioen.
'n Groot dank is verskuldig aan die hoofborg, Stilbaai Spar wat vir baie jare al die borg van die toernooi is. Peet van Staden word hartlik bedank vir sy bereidwilligheid om weereens die belangrike toernooi op die klub se kalender te ondersteun.
Mnr. Barnard word ook bedank vir sy bereidwilligheid om pryse vir die toernooi te skenk. As gevolg van die ruim borgskappe, het elke deelnemer wat by prysuitdeling teenwoordig was, 'n prys gekry. Tydens die verrigtinge is daar heerlik gesmul aan die versnapperings wat deur Stilbaai Spar opgedis is. Baie dankie aan al die borge en deelnemers wat bygedra het tot 'n suksesvolle kampioenskap.

Die dames is van links Bets Calitz, Mart Cronjé (kampioen) en Marie Pretorius.

Die mans is van links Andrew Michaels, Kadoems du Preez, Evert Nel en Jacques Cloete (kampioen).