Update
HEIDELBERG KRIEKETNUUS - Na 'n afwesigheid van ongeveer 18 maande as gevolg van die Covid-19-pandemie moes Heidelberg United-krieketklub Saterdag, 30 Oktober hul SWDK Six Gun Grill T20-wedstryde teen Riversdal en Slangrivier afskop, maar laasgenoemde klub het nie opgedaag nie.
Dit is egter nie die eerste keer dat Slangrivier nie vir die begin van die seisoen vir hul T20-wedstryde opdaag nie.
Die drie spanne is saam met Melkhoutfontein in die G-stroom van die kompetisie.
Die eerste wedstryd het vir die tuisspan, Riversdal ramspoedig geëindig toe hulle deur United platgevee word en die besoekers met 78 lopies wen. United se kaptein, Jaques Thyse het die loot gewen en besluit om te kolf.
Heidelberg het 117 almal uit in hul toegelate 20 boulbeurte opgestapel. Berthal September, jong belowende kolwer het die beste met die kolf gevaar deur 47 lopies (6x4 en 1x6) aan te teken. Hy is goed deur Corbin Swartbooi met 24 lopies (2x6 en 1x4), asook Danielo du Preez met 15 lopies bygestaan.
Vir die tuisspan het Byron Esau met 3/12 na vier beurte die beste met die bal gevaar. Die veteraan, Jason van Rensburg het 2/21 na drie platgetrek, met Jereldo Hartnick met 2/16 na vier en Marcello Wessels met 2/22 na vier beurte het die paaltjies laat kantel.
Riversdal, wat 118 moes aanteken is vir 'n skamele 39 lopies na 10 beurte uitgeboul. Net Marvin Kortjé met 18 lopies (1x4) kon dubbelsyfers behaal.
September het ook met die bal presteer en 4/7 na drie beurte platgetrek. Hy is as speler van die wedstryd aangewys.
Die ander paaltjies is deur Gershom van Rooyen met 3/6 na twee beurte en Du Preez met 2/10 na drie beurte ingeoes.
VORIGE ARTIKEL: T20-wedstryde skop af
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'