Die tuisspan het eerste gaan kolf en die yslike totaal van 351/8 in hul toegelate 50 boulbeurte
aangeteken. Dis die eerste keer in 'n baie lang tyd wat United die volle 50 beurte uitgekolf het. Die middelordekolwer, Devoroh Roberts, het 'n onoorwonne 112 lopies van 116 balle, wat 10 viere en 6 sesse ingesluit het, gemoker.
Hy is goed deur veral Damian Schietekat met 85 lopies van 57 balle, wat 5 viere en 8 sesse ingesluit het, bygestaan. Die vennootskap om die sewende paaltjie het 143 lopies opgelewer van 131 balle.
Die ander kolwers wat bestendig gekolf het, was Andrew Pieters (kaptein) met 36 (4x4, 1x6) en sy openingsmaat, Ryan Petersen met 27 (3x4) wat 73 lopies om die eerste paaltjie aangeteken het, terwyl Pernell Conradie en Ramsey Noudt beide 15 lopies, met 2 viere onderskeidelik en Corbin Swartbooi met 10, wat 2 viere ingesluit het, dubbelsyfers behaal het. Die besoekers het egter ook tot die groot loesing bygedra deur slordige boulwerk, wat 45 ekstra lopies bygedra het.
Vir Kavaliers het Asir Ali, een van hul Pakistan-spelers en Kevin Richtenberg beide drie paaltjies onderskeidelik laat kantel. Ali het 3/42 na 10 en Richtenberg 3/80 na 10 beurte geneem. Francois Bonthuys (kaptein) met 1/50 na 10 en Shanon Leisching met 1/82 na 10 beurte het die ander twee paaltjies ingepalm.
Die besoekers moes 352 in hul toegelate 50 beurte aanteken, maar is deur die begeesterde tuisspan se goeie boul- en veldwerk verhoed om die teiken te behaal en is vir 133 almal uitgehaal. Hulle het egter ook net 10 spelers gehad.
Vir Kavaliers het die veteraan, Colin Murphy met 30 lopies, wat 5 viere ingesluit het, Bonthuys met 24 (3x4, 1x6) en JC van Zyl met 23 lopies wat 4 viere ingesluit het, die beste met die kolf gevaar. JP Roux met 11 (1x4) en Marius Terblanche (junior) met 10 (1x4) kon darem ook dubbelsyfers behaal.
Vir United het Noudt met 2/22 met 1 leeg na 5 beurte, Simmy Meyers met 2/24 met 1 leeg na 6 en Swartbooi met 2/27 na 5 beurte, asook Ivanhoe Davids met 1/12 na 3 beurte en Pieters met 1/7 na 0.5 beurte, die paaltjies laat kantel. Goeie veldwerk het ook 'n uithardloop bewerkstellig.
United, wat klaar is met hul ligaverpligtinge, hoop dat Kavaliers en Kranshoek Cobras hulle 'n guns gaan bewys deur Pioneers van Plettenbergbaai te wen om vir hulle 'n plek in die semi-finaal te verseker.
Die naweek se bepalings
Saterdag, 1 Februarie: Slangrivier tuis teen Riversdal; Melkhoutfontein tuis teen Knysna Kavaliers; Albertinia weg teen Pioneers.

United krieketklub was duidelik in hul skik met hul laaste ligawedstryd waarin hulle die ligavoorlopers, Knysna Kavaliers goed afgeransel het. Agter van links staan Ivanhoe Davids, Pernell Conradie, Cecil Meyers (spanbestuurder), JP van Niekerk (gelukbringer), Simmy Meyers, Edgar Michaels en Corbin Swartbooi. Voor sit Ramsey Noudt, Sharaden Boezak, Devoroh Roberts (speler van die wedstryd), Andrew Pieters (kaptein), Ryan Petersen en Garth Esau. Inlas: Damian Schietekat.
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'