HEIDELBERG KRIEKET NUUS - United-krieketklub het Saterdag 29 Februarie die tweede Hessequa Cup-toernooi met sewe paaltjies gewen.
Hulle het Melkhoutfontein-krieketklub in die eindronde by Kairos Sekondêr die loef afgesteek.
Die besoekers het eerste gekolf en was gou in die knyp toe aanvangsbouler Elrick Pretorius, in 'n verwoestende bui die eerste drie paaltjies na twee leë boulbeurte laat kantel het.
Hul telling na vier beurte was 'n skamele vier lopies. Melkies is vir 74 na 18,4 beurte almal uitgeboender. Net Saul Pieterse met 24 (4x4) en Ferlin Malowitz met 11 (1x4) kon enige weerstand teen United se venynige boulwerk bied.
Pretorius met sy 3/7 met 2 leeg na 4 beurte en Garth Pieterse met 3/17 na 4 beurte was United se beste boulers.
United moes 75 in hul toegelate 20 beurte aanteken en het die teiken na 10,2 beurte behaal met 'n telling van 77 vir die verlies van drie paaltjies. Corbin Swartbooi met 29 vanaf 22 balle (5x4) en Pieterse met 26 nie uit vanaf 20 balle (2x4, 1x6) het vir die tuisspan uitgeblink.
Vir Melkhoutfontein het Adrian September met 1/9 na twee beurte die beste met die bal gevaar. Kelvin Malgas met 1/11 na 2,2 beurte en PJ Pietersen met 1/22 na drie beurte het die ander twee paaltjies laat kantel.
Pretorius is as speler van die wedstryd aangewys.
In die wedstryd om die derde plek het Albertinia vir Slangrivier met 30 lopies geklop. Albertinia is vir 143 uitgeboul met Renaldo Waterboer wat die beste met die kolf gevaar het met 'n telling van 51 lopies (4x4, 2x6).
Slangrivier moes 144 in hul toegelate 20 beurte aanteken maar is vir 113 almal uitgeboul.
Die toernooi wat deur Hessequa-munisipaliteit geborg word, is met 'n afrigtingskliniek vir leerders van De Waalville Primêr voorafgegaan.
Die span van Albertinia-krieketklub is baie trots op hul derde plek in die toernooi. Agter, van links: Eustice Saayman (voorsitter), David Losper (tellinghouer), Frederick Uys, Renaldo Waterboer, Ednimin Nomdo, Theo Oosthuizen en Keagan Windvogel. Voor: Bertram Kiewit, Leegano Riddles, Vivian Daries en Jakobus Vaaltyn.
Agter, van links: Michael Williams (spanbestuurder), Enzo Lodewyk, Lorenzo Gordon, Elrick Pretorius, Danielo du Preez, Garth Esau (kassier), Wesley Bunding en Henrico Esau. Voor: Jaques Thyse, Jacquen Meyer, Corbin Swartbooi, Will Vaaltyn, Garth Pieterse en Shirgené Swartbooi.
Leerders van De Waalville Primêr saam met van links: Mirinda Riddles (afrigter), Basil Esau, Leighton Lawak, Angelo Busch en Lilian Schuller (afrigter).
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'