Dit was ‘n naelbyt affêre om die minste te sê.
Die tuisspan het die wenlopie met nog drie balle oor aangeteken, nadat ’n bouler van Oostelikes met die vorige bal ’n foutbal afgestuur het wat die twee spanne gelyk laat trek het.
Gurshwin Rabie is van die volgende bal laat val toe twee veldwerkers die bal wou vang wat aan die SWD die oorwinning besorg het.
Die SWD het met die oorwinning opgeskuif na die vyfde plek op die punteleer.
Oostelikes, wat deur die SWD ingestuur is om eerste te kolf, het 220 lopies aangeteken.
Ross Mc Millan (4/28) en Glenton Stuurman (2/27) was die tuisspan se beste boulers.
Die SWD het in sy kolfbeurt goed begin met Adrian McLaren wat ingeklim het onder die boulers en 38 lopies (4x4; 2x6) van 30 balle aangeteken het. Ross Mc Millan het 44 gekry maar dit was ’n waardevolle vyftigtal (54; 4x4) deur Pieter Stuurman wat deurslaggewend was.
Die twee eindkolwers, die boulers Lonwabo Rodolo en Gurshwin Rabie, wat manhaftig vasgeskop het om die laaste 13 lopies vir ’n oorwinning aan te teken, verdien ook ‘n spesiale pluimpie.
Die SWD het egter die driedaagse wedstryd met 6 paaltjies verloor.
Die span het eerste gekolf en het behoorlik gesukkel en is vir ‘n skamele 110 lopies uitgeboul met net Brendon Louw (29) en McLaren (21) wat meer as 20 lopies kon kry.
Oostelikes was met sy telling op 28/5 kniediep in die moeilikheid maar die SWD kon nie hierop voortbou nie. Die besoekers het uiteindelik 204 gekry vir ‘n voorsprong van 94 lopies op die eerste beurt.
Marcello Piedt was met 5/57 die SWD se grootste uitblinker met die bal terwyl Gurshwin Rabie 3/47 gekry het.
Die SWD het in sy tweede beurt 222 aangeteken waarvan Sammy-Joe Avontuur ’n puik 90 (9x4; 1x6) bygedra het, sy beste telling in ’n baie lang tyd. Hy het egter sy paaltjie verloor toe hy sonder kolfmaats geword en ‘n paar vinnige lopies wou aanteken.
Oostelikes het die lae wenteiken van 128 lopies vir die verlies van slegs vier paaltjies bereik.
* Die SWD speel die naweek op die Rec teen Griekwas.
.jpg)
Die span van die SWD na sy oorwinning Sondag oor Oostelikes. Foto: Garnett Wicomb.