Update
RIVERSDAL KRIEKET NUUS - Die plaaslike krieketklub het die seisoen op 'n laagtepunt geëindig, al het hulle heeljaar lank baie hard gewerk.
Dis die mening van afrigter Justin van Rensburg na Riversdal-krieketklub Saterdag 22 Februarie voor Sussex van Mosselbaai in die 1ste afdeling Promosieliga-eindstryd op Van Riebeeck-stadion op Mosselbaai die knie moes buig.
Riversdal het die loot gewen en besluit om eerste te boul. Dinge het vir Sussex verkeerd geloop toe hul kaptein met sy eerste bal deur 'n blitsige bal van Donavan Pieterse skoongeboul is.
Riversdal se Byron Esua, Jason van Rensburg, Marchello Wessels, Lendle Evertse, Chadwin Paulsen en Marvin Kortjé - wat in sy 10 boulbeurte 4 paaltjies vir net 17 lopies gevat het - het met goeie boulwerk die paaltjies ingeoes, maar kon nie van Cooper ontslae raak nie.
Sussex het uiteindelik 164 vir 9 na hul toegelate 50 boulbeurte behaal, met Cooper, wat sy paaltjie in die laaste boulbeurt verloor het, op 45 lopies van 119 balle.
Riversdal se jaagtog het rampspoedig begin na hul openingskolwer en nommer 3-kolwer met oortrap foutballe uitgegee is.
Sussex se tuisvoordeel met ondersteuners wat inkomende kolwers uitjou, het Riversdal die doodskoot gegee toe hulle na 6 boulbeurte 17 lopies met 6 paaltjies plat was.
Pieterse het met gedissiplineerde kolfwerk verbete vir Riversdal geveg en onoorwonne uit die stryd getree. Hy is goed deur Cheslan Cloete bygestaan en uiteindelik is hulle vir 68 lopies almal uit.
"Ek wil graag die borge, ondersteuners en veral die spelers bedank," het Van Rensburg gesê.
Lees 'n vorige artikel: Riversdal-krieketklub buig die knie
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'