Update
MELKHOUTFONTEIN NUUS - Die plaaslike krieketklub het die afgelope naweek beide hul SWDK Promosie B-stroom tuiswedstryde teen onderskeidelik Wildernis Vipers en Mayflower op 'n drafstap gewen.
In hul wedstryd Saterdag 11 November teen Vipers het die tuisspan hul besoekers met agt paaltjies afgeransel.
Vipers het eerste gekolf en 121 lopies, almal uit in 37 beurte aangeteken. Vir Vipers het Elricardo Sampson en Jonathan Buys beide 25 lopies aangeteken.
Henrico Veldman met 19 en Kenneth Syster met 13 het ook dubbelsyfers behaal.
Vir Melkhoutfontein het Kelvin Malgas met die bal uitgeblink en het hy 6/28 met vier leeg na nege beurte platgetrek.
Die ander paaltjies is deur Peter-John Petersen, 2/20 met 2 leeg na ses, Hyron October met 1/22 met een leeg na nege en Wilhelm Sollmans met 1/30 na ses beurte ingeryg.
Die tuisspan, wat 122 in hul toegelate 50 beurte moes aanteken, het die teiken maklik behaal met net twee paaltjies plat na 19.1 beurte.
Henry Busch met 48 lopies het die beste gevaar.
Reagan Deutschen met 35 nie uit nie en Saul Petersen met 20 nie uit nie, het die teiken afgekolf.
Sampson met 1/31 na vyf beurte en Syster met 1/26 na vier beurte het die twee paaltjies laat kantel.
In hul wedstryd Sondag teen Mayflower het Melkhoutfontein met 23 lopies geseëvier nadat hulle 103 lopies, almal uit aangeteken het in 26.3 beurte.
Mayflower wat net 104 lopies in hul 50 beurte moes behaal, is vir 80 lopies in 25.5 beurte uitgeboul.
Vir die tuisspan kon slegs Wilhelm Sollmans met 35 lopies en Hyron October met 18 dubbelsyfers behaal.
Vir Mayflower het Clinton Pietersen 3/20 met vier leeg na nege beurte en Roopesh Raveedran met 3/12 na 2.3 beurte die beste met die bal gevaar.
Ashwin Meyer met 2/30 na ses en Riaan Prins met 1/20 na sewe beurte het die ander paaltjies ingeryg.
Net Raveedran met 17 lopies en Randy Wesso met 13 kon dubbelsyfers behaal.
Vir die tuisspan het October en Deutschen elk drie paaltjies platgetrek. October het 3/2 met twee leeg na 3.5 beurte laat kantel, terwyl Deutschen met 3/11 na vyf beurte gespog het.
Petersen met 2/28 met een leeg na ses, John Busch met 1/19 na sewe met twee leeg en Eldon Manho met 1/11 na vier met een leeg, het die ander paaltjies ingeryg.
Lees 'n vorige artikel: Melkies kraai koning
ARTIKEL: CLIVE PRETORIUS, SUID-KAAP FORUM KORRESPONDENT
'Ons bring jou die nuutste Melkhoutfontein, Hessequa nuus'