HEIDELBERG KRIEKET NUUS - KFC het Saterdag 14 September in samewerking met SWD-krieket 'n minikrieketfees aangebied.
Die o. 7 en o. 8-seuns en -meisies van De Waalville, Panorama, Voorwaarts, Goedgegun en Hoërskool Heidelberg het op laasgenoemde skool se sportterrein aan die fees deelgeneem.
Twee van SWD-krieket se afrigters en spelers van Riversdal-krieketklub het die afrigtingskliniek aangebied. Die jong spelers het basiese vaardighede, soos hoe om die bal te vang, die korrekte boulaksie, hoe om 'n kolf vas te hou en hoe om veldwerk te doen, aangeleer. Na afloop van die sessie het die skole teen mekaar gespeel sodat die leerders hul nuwe vaardighede kon toepas. Dit was duidelik dat hulle elke oomblik geniet het en die dag kan as 'n reusesukses beskou word.
Genevieve Anthony, SWD se minikrieket-koördineerder het die leerders aangemoedig om aan te hou krieket speel. Sy het ook die ouers versoek om kinders wat wil krieket speel, te ondersteun.
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'