Die leiers van beide kleurgroepe het pragtig in hul uitrustings vertoon.
Al die leerders het entoesiasties deelgeneem, hetsy op die baan of met aanmoediging vanaf die pawiljoen.
Oom André Heidmann en sy mense het gesorg dat die baan in 'n puik toestand is. Die res van die personeel het vooraf hard gewerk om te sorg dat die dag glad verloop.
Hoewel dit 'n warm dag was, het die atlete hul bes probeer en 'n klompie rekords is verbeter deur die volgende atlete: Jandré Nothnagel (seuns o.12 150 m), Jayden Gysman (seuns o.12 150 m hekkies), Anrie Greeff (dogters o.12 gewigstoot), Janco Klinck (seuns o.13 200 m en 200 m hekkies), Jovan Simon (seuns o.10 70 m hekkies).
Die atlete wat die beste in hul onderskeie ouderdomsgroepe gevaar het, is: o.7 - Marcwinn Jacobs en Lineeck Daries; o.8 Jourdey Daries en Irmarie Oosthuizen; o.9 Julmur Hofman en Danelle Bergh; o.10 Jovan Simon en Anine Oosthuizen; o.11 Lazlo Paulsen en Annemi Duminy; o.12 Jandré Nothnagel en Anrie Greeff; o.13 Janco Klinck en Leané Pottas.
Jandré Nothnagel is as die Victor Ludorum en Leané Pottas as die Victrix Ludorum van die dag aangewys. Die rooispan het, met beter prestasies en 'n groter deelname-punt, seker gemaak dat hulle as oorwinnaars uit die stryd tree.
Volschenk bedank alle ouers en vriende van die skool vir hul bydrae om van dié dag 'n groot sukses te maak.

'n Klompie jonger atlete snel vir die wenstreep.