Update Video
RIVERSDAL NUUS EN VIDEO - Twee blinkoog atlete van Hoërskool Langenhoven is gekies om aan vanjaar se World Para Athletics Junior Championships van 1 tot 4 Augustus in Switserland deel te neem.
Marlé van Wyk gaan aan die naellope deelneem en Tinka Fox aan spiesgooi en gewigstoot en hulle sien baie daarna uit om saam na Switserland te reis.
Fox is met klompvoet (clubfoot) in albei voete gebore. Die defek kan in een of albei voete voorkom, maar die meeste babas wat daarmee gebore word, se voete word albei daardeur geraak. Hoewel klompvoet vir die babas pynloos is, moet behandeling dadelik begin en Fox het reeds bykans 15 operasies ondergaan.
Op die oog af lyk dit nie of sy iets makeer nie want sy kan stap en draf. "Ek het baie min beweging in my enkels en na elke oefening is my enkels baie styf en seer. Ek kan nie soos iemand wat normaal gebore is hardloop nie. Dit is waarom ek net aan spiesgooi en gewigstoot deelneem."
Partymaal wens sy dat sy net vir een dag kan voel hoe dit is om normaal te kan loop, hardloop en oefen. "Al dink ek partymaal daaraan, besef ek baie vinnig dat ek dit nie anders sou kies of wou hê nie. Hoe ek nou is het my die mens gemaak wat ek geword het."
Marlé van Wyk het op 17 minder as 10% sig in albei haar oë weens Stargardt se siekte. Hoewel sy van 'n baie jong ouderdom af met haar sig gesukkel het, is sy eers in 2010 met dié siekte gediagnoseer. Dit is 'n oorerflike afwyking wat kinders se oë aantas sodat hulle geleidelik hul sig verloor, maar 'n mate van kantvisie (peripheral vision) behou.
Ten spyte daarvan neem Marlé graag aan sport deel en het reeds verskeie rekords verbeter. Sy sien uit daarna om Suid-Afrika weer, soos met die Africa Union Sports Council (AUSC) se Region Five-jeugspele waaraan sy verlede jaar deelgeneem het, te verteenwoordig.
Dit is die eerste maal dat Fox internasionaal deelneem. Sy vertel: "Niks in die lewe is so erg dat jy dit nie kan hanteer nie. Jy moet aanhou en aanhou veg en sal jou drome bereik. Hierdie byeenkoms is die begin van my groot droom. Ek sal mik vir goud, maar solank ek weet dat ek my bes gedoen het, sal ek tevrede wees." Sy sien die meeste daarna uit om weer te kan ervaar hoe paralimpiese-atlete mekaar behandel. "Hulle is glad nie so kompeterend nie en gun mekaar geluk en sukses."
In 2017 het 285 atlete uit 41 lande deelgeneem, maar vanjaar verwag die organiseerders ongeveer 350 atlete van meer as 50 lande. Die spele word in die Swiss Paraplegic Centre aangebied.
Marlé van Wyk en Tinka Fox is gereed vir Switserland. Foto: San-Marié Cronjé
Kyk 'n video hieronder:
Lees 'n vorige artikel hier: Fox en van Wyk mik hoog
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'