Gallery Update
STILBAAI NUUS - Die vorige dag se reën en voorspellings van ysige koue en meegaande storms het nie die 73 deelnemers aan die vyfde Kasselshoop Farm Run op 30 Junie by Kasselshoop afgeskrik nie.
Heelwat besoekers, vakansiegangers, Stilbaaiers en inwoners van buurdorpe het die 5,98 km-roete op die plaas aangepak. Die reën het veroorsaak dat die veld nie net mooi groen was nie, maar ook dat die los sand bietjie harder was en die drawwers en stappers, jonk en minder jonk, het die vars plaaslug op 'n ongewone warm wintersoggend terdeë geniet.
Dit was 'n 16-jarige tweeling wat dié keer gewen het met Gunther de Coning wat na 28 min. 12 sek. eerste by die einde was, terwyl sy sussie, Tishia, die eerste dame by die einde was en tweede algeheel in 'n tyd van 30 min. 10 sek. Hulle is van Pretoria en besoek die familie gedurende die skoolvakansie. Die 10-jarige Phillip de Jager was derde met sy pa, Johan, 'n boer in die omgewing, wat vyfde klaargemaak het.
Die wenner van die April-plaasdraf, Schalk Fouché (11), was net na Phillip by die einde. Emile Streicher het ook al voorheen deelgeneem en was sesde, gevolg deur Karlien Botha, Ané Brink, Isabel Vorster (10) en Conrad Bouwer jr. (9).
Dit gaan egter nie oor wen nie en deelnemers het gepraat oor hoe mooi die veld tans is, terwyl veral besoekers van Pretoria en Rustenburg dit geniet het om 'n stukkie van die plaaslewe te kon ervaar.
Die volgende Kasselshoop Farm Run vind op 28 Julie plaas.
Volledige resultate is beskikbaar by www.mystilbaai.co.za.
Johan en sy seun, Phillip (10) het in die topvyf klaargemaak. Hulle boer in die omgewing.
Lees 'n vorige artikel: Winter skrik plaasdraffers nie af nie
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'