Gallery Video
HESSEQUA SPORTNUUS EN VIDEO - Hessequa-atlete was saam met sportlui van oor die wêreld deel van sportgeskiedenis.
Meer as 42 000 inskrywings is vir die Race the legends virtuele Comrades-marathon op Sondag, 14 Junie ontvang.
Die Comrades-marathon-assosiasie het dié geleentheid gereël toe die tradisionele wedloop weens die koronaviruspandemie afgestel moes word.
Fotogalery: Hessequa-atlete deel van Comrades geskiedenis
Ongeveer 20 drawwers het op Stilbaai die bytende oggendluggie trotseer om vanaf 07:30 vir hul onderskeie wedlope weg te spring. Vinniger atlete en sommige van dié wat die langer roetes gedoen het, het later begin en elkeen kon sy eie roete bepaal.
Hoewel die groep wat saam weggespring het, nie in die tradisionele sin saam kon draf nie, kon hulle mekaar darem elke nou en dan sien. Daar is gereeld vir mekaar gewaai en meeste het boonop genoeg asem gehad om oor en weer met 'n kwinkslag of twee aan te moedig. Daar was ook 'n paar waterpunte langs die pad en Sharn Brummer het lekkergoed by die brug uitgedeel.
Kyk 'n video hieronder:
Die eerste deelnemer oor die 5km-afstand wat klaargemaak het, Duan Rautenbach (gr 5), was sommer vroeg al by die eindpunt op die Wes-strand terug. Hy is baie trots op sy tyd: "Ek het 27:18 gehardloop!" Erika Meyer en Charmaine Manley het lag-lag saam die laaste paar treë gegee. Meyer reken die enigste ding waaroor sy spyt is, is dat sy haar nommer op haar rug geplak het: "Volgende jaar doen ek dit reg!"
Die idee om mekaar só te ondersteun was die breinkind van Nico Steenekamp. Hy het 'n roete met die verskillende afstande uitgewerk as 'n voorstel en 'n WhatsApp-groep vir die geleentheid gestig, waar almal saam kon beplan.
Hoewel niemand die 90km aangedurf het nie, was daar goeie belangstelling vir die 5 en 10km-roetes. 'n Klompie atlete soos Elza Thiart-Botes het 21km gedraf, terwyl Anita Aucamp en Johan Uys wat vir die oorspronklike fisiese wedloop ingeskryf was,
45km afgehandel het. Daar is nie onderling meegeding nie - elkeen het in die groter prentjie van die Comrades 'n persoonlike beste tyd probeer behaal.
Al die deelnemers, van jonk tot effens minder jonk, was dit eens dat hulle dit besonder baie geniet het.
Duan Rautenbach. Foto's: Deona Aucamp
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'