STILBAAI NUUS - Graeme Cuttings, skoolhoof van Melkhoutfontein Primêr, en die TikTok-sensasie, Edmundo van der Berg, het Vrydagaand, 8 Mei, 'n paneel sportkenners met interessante vrae, meestal oor rugby en netbal, bestook.
Die paneel het bestaan uit Grant Riddles, visepresident van SWD-rugby, Ashleen Prins, voorsitter van Eden-skolenetbal, Fernell Pretorius, voorspelerafrigter van die SWD se o. 16-rugbyspan, Andell Loubser, SWD Arende-rugbyspeler, Malan du Plessis, afrigter van Hoër Landbouskool Oakdale se o. 19A-rugbyspan, en Duane Deutchen, hoofafrigter van Seagulls-rugbyklub.
Hulle het hul kennis van en passie vir sport met die gehoor gedeel, met 'n sterk klem op dissipline as 'n ononderhandelbare vereiste vir sukses.
Dit het ook duidelik na vore gekom dat suksesvolle afrigters ontwikkeling hoog aanslaan en dat die menslike kant van sport net so belangrik soos prestasie op die veld is.
Die gehoor is verder vermaak met verskeie gelukstrekkings waar goeie pryse gewen kon word. Die aand is afgesluit met 'n heerlike tweegangmaaltyd wat deur die onderwysers van die skool voorgesit is.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’