EIENDOMSNUUS - Die Wet op Gemeenskapskemas beter bekend as die CSOS Act (Community Schemes Ombud Services Act) het op 7 Oktober 2016 in werking getree en is van toepassing op deeltitelskemas, huiseienaarsverenigings (gemeen-regtelike huiseienaarsverenigings sowel as huiseienaars geregistreer as nie-winsgewende maatskappye in terme van die maatskappywet, aandeleblokskemas, behuisingskemas vir afgetrede persone en ander koöperatiewe behuising.
Doelstelling
Die doel van die Gemeenskapskema Ombuddiens is om toegang te gee tot inligting, opleiding en dokumentasie beskikbaar te stel aan eienaars en hulle bewus te maak van hulle regte en verpligtinge in gemeenskapskemas.
Registrasie
Elke gemeenskapskema moet by die Ombud registreer binne 30 dae van ontstaan of binne 30 dae nadat die wet in werking getree het dit wil sê voor 6 Januarie 2017 of so gou as moontlik daarna. Die wet maak voorsiening vir strafmaatreëls, naamlik boetes en moontlike tronkstraf indien 'n gemeenskapskema versuim om aan die vereistes van die wet te voldoen.
Beskostigbare geskil besleggings
Die Ombud bied die geleentheid om geskille te besleg deur verminderende kostes en om tyd te bespaar vir betrokke partye om regte af te dwing. Die bevele van 'n beregter (adjudicator) is afdwingbaar in 'n landdroshof of die hooggeregshof, afhangende van die betrokke bedrae of die tipe bevel wat uitgereik is. Die aansoek om bevele word in verskeie kategorieë ingedeel.
Getroudheidsversekering (Fidelity Guarentee)
Elke skema is kwesbaar vir die moontlike verliese van monetêre fondse, hetsy deur diefstal of bedrog. Dit is die plig van die uitvoerende komitee om die fondse van die huiseienaarsvereniging te verseker teen die oneerlike optrede van die volgende partye – 'n uitvoerende bestuurslid, 'n werknemer van die huiseienaarsvereniging, die bestuursagent of selfs 'n kontrakteur. Die wet gaan self so ver deur die presiese formule uit te wys ten opsigte van getrouheidsdekking – dit word bereken deur die totale bedrag van die reserwefonds(e) en beleggings aan die einde van die vorige boekjaar plus 25% van die skema se totale operasionele begroting vir die huidige boekjaar bymekaar te tel en die totale som is die bedrag waarteen getrouheidsdekking uitgeneem moet word.
Heffings
Heffings word bereken op 2% van die skema se maandelikse bydrae van die individuele eienaars, indien die bedrag meer as R500 is. Die maandelikse heffing word beperk tot R40 per eienaar. Die huiseienaarsvereniging is verantwoordelik om die CSOS heffing kwartaalliks aan die Ombud oor te betaal, en nie die individuele eienaars nie. Gevolglik moet die uitvoerende komitee voorsiening maak in die jaarlikse begroting vir hierdie heffings en dit dan van die eienaars verhaal.
Jaarlikse Opgawes
Alle gemeenskapskemas moet jaarliks binne vier maande na die finansiële jaareinde 'n opgawe by die Ombud indien. Die voorgeskrewe Vorm CS2 moet gebruik word en saam met 'n afskrif van die geouditeerde finansiële state asook die nuutste heffingsskedule aan die Ombud gestuur word.
Pligte en verantwoordelikhede van die uitvoerende komiteelede – Uitvoerende komiteelede moet 'n redelike poging aanwend om hulself ingelig te hou met betrekking tot sake in die skema, bestuursdokumente en ander toepaslike wetgewing. Hulle moet verder alle komiteevergaderings en algemene jaarvergaderings bywoon en hulself vir sodanige vergaderings voor berei.
Stuur 'n e-pos na krohnkarin@gmail.com indien u vrae rakende u skema het - insluitende deeltitels, huiseienaarsverenigings of aftreeoorde.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'