Update
NASIONALE NUUS - Solidariteit Helpende Hand het op 8 April 'n nuwe fondsinsamelingsaksie geloods.
Die virtuele Houers VOL Hoop-projek is geskep om die maatskaplike nood wat reeds weens Covid-19 ontstaan het, aan te pak.
"Houer vir houer moet daar 'n verskil gemaak word in behoeftige gemeenskappe wat swaar onder die Covid-19-inperking ly," sê Hannes Noëth, uitvoerende direkteur. Volgens hom word die organisasie deur kwesbare groepe met versoeke vir hulp oorval. "Die verbreking en voorkoming van armoede het skielik 'n nuwe dimensie aangeneem toe al die fokus na verligting verskuif het – nie omdat ons dit so wil hê nie, maar omdat die praktyk dit dwing as gevolg van Covid-19," sê hy.
Ten einde in die groeiende behoefte te voorsien is meer as 70 Josef Silo's, waar nie-bederfbare kos afgelewer kan word, geskep. Die idee van die silo's het sy oorsprong in die Bybelverhaal van Josef wat in Egipte betyds vir sewe jaar van hongersnood genoeg kos bymekaar gemaak het.
"Ons bedoeling met Josef Silo's is dus om voorsiening te maak vir die moeilike tye wat ons nou ervaar én voorsorg te tref vir moeilike tye wat kan kom as die inperking verby is," sê Noëth.
"Die strategie van Houers VOL Hoop is tweeledig: Die publiek kan kos gaan afgee, of hulle kan 'n kontantskenking maak sodat ons kos vir behoeftiges kan aankoop," verduidelik hy.
Elke houer bevat nie-bederfbare goedere ter waarde van R350 wat vir gesinne in nood uitgedeel word. Die houers bevat mieliemeel, rys, pasta, teesakkies, Cremora, sojabone, hoender, uie en tamatie-smoor, boeliebief, geblikte bone, soppoeier, olie, sout, konfyt, tandepasta, toiletpapier en skottelgoedseep.
"Helpende Hand glo in beginsel daaraan om reg te gee. Ons kyk mooi wat die gesin nodig het en bereken dit reg om te sien wat hulle in 'n moeilike tyd kan deurtrek."
Koop 'n Houer VOL Hoop vir R350 op die webtuiste by www.houersvolhoop.co.za
Vorige artikel: Steek 'n helpende hand uit
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'