Update
NASIONALE NUUS - Die Suid-Afrikaanse Poskantoor sê in 'n verklaring dat kliënte wat Kerspakkies na ander lande wil stuur dit so gou moontlik moet doen.
Dit geld veral vir seepos.
Volgens die poskantoor is hulle grootliks op datum met die versending, maar in die land van aankoms moet pos deur klaringsprosesse wat tyd neem, gaan.
Die poskantoor wys daarop dat geen items wat litiumbatterye bevat met lugpos gestuur mag word nie. Ander items verbode vir lugpos sluit dwelms, goed wat kan uitlek en ander pakkies beskadig bv. velroom, iets wat in die vliegtuig kan ontplof of ontbrand en dier- en plantprodukte in. Alle lugpospakkies word vooraf met X-strale ondersoek en ongewenste items word per seepos gestuur.
Maak seker jou pakkie kom veilig anderkant deur dit in 'n stewige houer te pak, want dit word in groot massahouers vervoer. As die verpakking nie vol is nie kan die leë ruimte met skokabsorberende materiaal soos papiersnippers of polistireen gevul word. Maak vooraf seker die items wat gestuur word is wettig in die land van aankoms. Dier- en plantmateriaal kan in die meeste lande nie sonder 'n permit ingevoer word nie. Doeaneklaring kan bespoedig word as die woord gift duidelik op die pakkie staan.
Binnelandse lugpositems moet op die laatste op 1 Desember gepos word.
Ander sperdatums
- Seychelles, Comoro-eilande, Mauritius en Réunion: 27 Oktober;
- Tristan da Cunha, Ascension, St Helena, Australië, Noord- en Suid-Amerika, die Verre Ooste, Asië, Brittanje, Europa en die Midde-Ooste: 31 Oktober;
- Afrika (die Ivoorkus, Ghana, Kongo, Demokratiese Republiek van die Kongo, Senegal, Kameroen, Nigerië, Gabon, Kenia, Tanzanië, Uganda, Burundi, Rwanda, Madagaskar, Angola, Malawi, en Zambië): 1 Desember. Slegs lugpos is na dié lande beskikbaar;
- Botswana, Lesotho, Mosambiek, Namibië, Swaziland en Zimbabwe: 8 Desember.
Lees 'n vorige artikel hier: Help kersvader om betyds te wees
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'